
Volgens die direkteur vir grondhervorming in dié provinsie, mnr. Khethukuthula Nzimande, is 75% van dié grond in onbruik. “Die ander 25% word ook nie tot die volle potensiaal aangewend nie. Dit verduidelik hoekom plaaslike gemeenskappe al verder agteruitgaan en dit kán nie so voortgaan nie,” het hy beklemtoon by die opening van ’n bemagtigingsprojek naby Vryheid.
Mnr. Mike Black, die voorsitter van Kwanalu is glad nie verras om hierdie syfer te hoor nie. “Dit is egter verrassend om te hoor dat hy (mnr. Nzimande) wel bereid was om dit te erken.” Daar is ook geen twyfel in Black se gemoed dat grond vir die afgelope 20 jaar as welvaart aangesien is nie. “Grond is ’n stuk gereedskap waarmee welvaart geskep kan word. Die vernuf en ervaring wat dit verg om hierdie stuk gereedskap doeltreffend aan te wend, sit egter nie in almal se broek nie.”
Dit is dus duidelik, volgens Black, dat grond ’n stuk gereedskap vir beide die politici en boere geword het. “Die Regering sien dit as ’n speelbal en ons as boere moet ook in daardie rigting begin dink. Indien daar ’n handjievol boere in ’n gemeenskap is waar daar onproduktiewe grond is, moet hulle dit sien as ’n geleentheid, as ’n stuk gereedskap om hul eie volhoubaarheid te verseker.
“Span saam en offer tyd en ander hulpbronne op om die stuk grond weer produktief te kry. Dit is egter nie die boer se werk om hierdie stuk grond en die boerdery daarop te finansier nie – dit moet van die Regering af kom. Maar kommersiële boere kan die leemte van kundigheid en ervaring baie goed volstaan in die projekte wat deur die Regering gedryf word. Dit is, na my mening, nie ’n noodsaak om te sorg dat grond hande verruil nie, maar sosiale opbouing en individuele bemagtiging is kardinaal vir die toekoms van Suid-Afrika en die landbou,” meen mnr. Black.