
Die illusie dat toegang tot grond as sodanig ’n toename in welvaart beteken en dat beter voedselproduksie en -sekerheid ’n logiese uitvloeisel van transformasie is, moet die nek ingeslaan word, sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.
Hy het in sy voorsittersrede op Agri SA se kongres op Muldersdrif gesê daar is tot dusver grootliks misluk met die daarstelling van ’n doeltreffende bemagtigingsomgewing. Dit is ook ’n illusie dat die mynbou belangriker is as die landbou.
Hy sê dit is Agri SA se standpunt dat natuurlike hulpbronne, soos grond, mineraalregte en water, verkieslik in private besit moet wees en dat markfaktore die toewysing daarvan vir gebruik moet rig. “Ons besef die staat moet in openbare belang en vir openbare doeleindes van hierdie bates bekom. Dit sal egter onverskoonbaar wees om ontwikkeling, regstelling en bemagtiging te doen ten koste van die individu van wie sodanige bates bekom moet word.”
Optimisme oor landbou
Möller sê hy is om verskeie redes optimisties oor die bedryf se toekoms. Getalsgewys kom daar elke jaar twee lande so groot soos Suid-Afrika in die wêreld by. Voedselproduksie moet daarvoor uitgebrei word. Al gaan dit ook nie in elke bedryf en op elke plaas rooskleurig nie, het die plaaslike landbou die afgelope vyf jaar goed gepresteer.
Netto boerderyinkomste het in 2011/’12 tot R51,5 miljard verbeter teenoor R32,8 miljard in 2010/’11. Daarby is daar erkenning in die Regering se beleidsdokumente vir die landbou se rol tot ontwikkeling, voedselsekerheid en werkskepping.
Hy glo hoe groter die nasionale konsensus is oor die visie wat nagejaag moet word en die uitdagings wat oorbrug moet word, hoe groter is die kans dat die resultaat die meeste mense sal bevoordeel. “Hoe meer ons verskil oor waarheen ons op pad is, hoe groter word die waarskynlikheid dat ons gesamentlik tot ’n reusemislukking sal bydra.”