Meer as 40% van die land se oppervlakte is reeds in swart besit. Indien die syfer egter op die drakrag van die grond wat hulle besit gebaseer word, beloop die syfer nader aan 50%, het mnr. Ernest Pringle, voorsitter van Agri Oos-Kaap, op Landbouweekblad se grondsimposium op Uitenhage gesê.
Hy het gesê die Instituut vir Rassebetrekkinge se syfers dui daarop dat van die 122 miljoen ha grond in die land, 25% in Staatsbesit is. ’n Verdere 2,1% is deur middel van restitusie oorgedra en tussen 10% tot 15% van die grond het sedert 1994 ingevolge die gewillige koper/gewillige verkoper-beginsel in swart besit gekom.
Volgens hom streef die Regering die Chinese model na waar die Staat die grondbesitter is en dit dan aan boere verhuur. “Dit is niks anders as ’n vorm van nasionalisering, waar die Regering toegang tot grond kry sonder dat ’n haan daaroor kraai.”
Regering moet skuld dra vir duur grond
Pringle het die Regering die skuld gegee vir die hoë grondpryse aangesien hy tot die mark toegetree het. Hy sê daar is gevalle waar grond tans ten duurste en teen nie-markverwante pryse deur boere aan die Staat aangebied word. “Wat ‘n mens nie begryp is nie, is dat die Regering bereid is om dit teen dié belaglike pryse aan te koop.”
Hy meen nietemin dit is noodsaaklik dat boere van alle bevolkingsgroepe toegang tot grond kry en in staat gestel word om suksesvol te boer. “Weens die onvermoë van die Regering het dit baie lank gesloer om te verseker dat grond wat in die verlede weens Apartheid van mense ontneem was, weer aan hulle terugbesorg is. Trouens, van die prosesse sloer nou nog en dit is noodsaaklik dat dit spoedig afgehandel sal word.”
Pringle het aangevoer dat die afname in die getal kommersiële boere weens lae winsmarges is. “Dit is nie aan grondhervorming of ’n Regering wat nie landbouvriendelik is, te wyte nie. As dit vir ons as kommersiële boere moeilik is om uit die landbou ’n bestaan te maak, hoeveel te meer gaan nuwe toetreders nie sukkel nie?”
Hy het dit betreur dat daar ’n grondliggende verskil is hoe die Regering bestaansboerdery en die kommersiële landbou hanteer. Die Regering meen as jy net ’n stuk grond het, jy ryk sal wees en kan boer. Hulle besef nie dat jy geld moet inploeg om te produseer nie.”
1 Mei 2012