“Só ’n invalshoek is problematies: Grond alleen bepaal nie landbousukses nie. Arbeid, kapitaal en ondernemingsgees speel ook ’n besliste rol,” skryf me. Fenji Materechera, ’n PhD-student in sistemiese analise aan die Universiteit van die Witwatersrand, en prof. Mary Scholes, wat die navorsingsleerstoel in toegepaste sistemiese analise by Wits beklee, in ’n artikel op die webwerf The Conversation Africa. “Suid-Afrikaanse boerdery funksioneer binne ’n meer holistiese stelselbenadering.”
In ’n studie in Vhembe in Limpopo onder kommersiële en kleinboere het die navorsers plaasgrootte, grondeienaarskap, topografie, grondbeskrywing, reënval en probleme oorweeg, hoe dit opbrengste en inkomste uit drie hoëwaardegewasse, naamlik makadamianeute, mango’s en avokadopere beïnvloed, en hoe albei stelsels voedselsekerheid op lang termyn nasionaal en huishoudelik ondersteun.
Die Vhembi-gebied is halfdroog, en ervaar dikwels droogtes. Die meeste kommersiële boere besproei, terwyl kleinboere in die gebied grootliks van seisoenale reën afhanklik is.