Onteiening sonder vergoeding kan nie algeheel verwerp word nie, want sekere omstandighede noop ’n regering om hierdie pad te volg.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landellike Ontwikkeling en Grondhervorming, het voor die lewering van sy begrotingsrede hierdie siening aan die media oorgedra. Sy departement en die Departement van Openbare Werke herbesin nou oor die Onteieningswetsontwerp.
Nkwinti het dit duidelik gemaak dat die Onteieningswet gewysig moet word.
Ter verduideliking waarom onteiening sonder vergoeding ook moet voorkom, het
Nkwinti vertel van ’n Noorweër wat grond in Grahamstad gekoop het met geld wat hy van ’n Noorweegse munisipaliteit gesteel het. Die Noorweegse regering soek nou sy geld terug en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming moet dit terugkoop.
Dit het die vraag laat ontstaan of hierdie grond wat met gesteelde geld gekoop is, onteien moet word. “Ek het besef dat ons nie ’n instrument het om hierdie soort kwessies te hanteer nie. ’n Mens kan nie sê dat jy nooit sonder vergoeding sal onteien nie.”
Om so ’n beleid te volg, sal die Grondwet egter verander moet word. Nkwinti het gesê die Grondwet weerspieël die politiek van die tyd toe dit opgestel is, die konteks, asook die balansering van magte. “Soos die ontwikkeling van die samelewing en die dinamika verander, oorreed jy mekaar dat dit sin maak om aspekte van die Grondwet te heroorweeg.”
Afstammelinge van die Khoi en San het petisies na Nkwinti gebring oor die grond wat hulle verloor het. Die Khoisan het grond voor 1913 verloor en “in die belang van die land moet daaroor gedink word en wat ons antwoord daarop is. Ek is gereed om pres. Jacob Zuma te vra om hierdie punt te oorweeg.
“Indien dit nodig is om die Grondwet te hersien, sal ek nie wegskram om so ’n voorstel op die tafel te sit nie.”
Oor die beginsel van ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper het Nkwinti gesê dat solank daar behoorlike markmeganismes is, dit nooit sal verdwyn nie. Vir die staat, wat ’n verpligte koper van grond is, werk dit egter nie.
Hy het gesê daar is druk van buite dat buitelandse grondeienaarskap hersien moet word. Buitelanders moet verstaan dat die land sy grond herverdeel en dit kan nie geïgnoreer word dat ’n aansienlike gedeelte van die land se grond deur buitelanders besit word nie.
Mnr. Mmuso Riba, hooflandmeter-generaal, het gesê die departement sal teen einde Junie sy grondoudit van die geregistreerde 1,15 miljoen stukke grond voltooi het. Hoeveel hektaar dit is, sal dan bekend gemaak kan word.
16 Mei 2012