Die spanning wat voortspruit uit die stadige pas waarteen grondhervorming geskied, blaas emosies in die landelike gebiede aan.
Dit lei tot ’n toename in gewelddadigheid en ’n poging van oningeligte beleidmakers om ’n mislukte program tot elke prys in werking te stel.
Mnr. Robin Barnsley, voorsitter van Kwanalu, het in Pietermaritzburg op sy organisasie se kongres gesê terwyl die landboubedryf ’n beduidende bydrae lewer tot die voeding van die volk, werksgeleenthede skep en omsien na die voortbestaan van die gemeenskappe waarmee boere werk, heers daar groot kommer oor misdaad, veiligheid en kwessies oor grondhervorming.
“Ondanks ons daadwerklike poging om opbouend by grondhervorming betrokke te raak, ly die nalatigheid van die regeringslui om hul kant te bring tot ’n kookpot van emosie in die landelike gebiede. Dit kan dodelike gevolge inhou en die ekonomie van die landelike gebiede knou.
“Ons kan en moet nie stilsit terwyl die Regering ondeurdagte en potensieel skadelike beleidsbesluite neem weens selfdienende politieke oorwegings nie. Intussen word foutiewe inligting versprei deur diegene wat nie hul werk doen nie of wat skandelike voornemens het,” het hy gesê.
Die Regering maak maklik eensydige verklarings oor die beweerde wangedrag van wit kommersiële boere teenoor plaaswerkers en gemeenskappe wat grond beset, maar min word gesê oor die wangedrag teenoor grondeienaars wat wettige eiendomsreg van die grond het waarop hulle boer.
Dit behels geweldpleging en soms moord, die verwoesting van eiendom, dreigemente teenoor en intimidasie van werkers en die lê van vals klagtes teen boere by simpatieke lede van die veiligheidsmagte, sê hy.
22 September 2010