
Die ministers van vier van die land se sleuteldepartemente moet voor die staande komitee vir toekenning verskyn nadat in ’n verslag bevind is dat groot onderbesteding binne die departemente plaasgevind het.
Die Demokratiese Alliansie (DA) sê hy sal daarvoor vra na aanleiding van ’n verslag deur die Nasionale Tesourie. Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het volgens die verslag R656,1 miljoen, of 29,2% van die departement se begroting, onderbestee.
Die party sê dié onderbesteding is ’n skande, veral as in ag geneem word dat in ’n vroeëre verslag bevind is dat baie van dié toelaes, wat pleks van grond aan gemeenskappe gegee is, voordelig aangewend is.
Die verslag van die Amerikaanse Raad vir Buitelandse Verhoudinge het bevind dat sowat 30% van die begunstigdes in Suid-Afrika wat geld ontvang het, dit gebruik het om hul huise te verbeter en dus die waarde van ’n primêre bate verhoog het.
Waterwese
Nog ’n departement wat die landbou raak, die Departement van Waterwese, het R786,1 miljoen of 37,8% van sy begroting onderbestee. Die DA sê in die lig daarvan dat R670 miljoen nodig is vir die ontwikkeling van nuwe infrastruktuur vir water om ’n moontlike waterkrisis af te weer, pootjie die kwessie ook die staat se nasionale waterbronstrategie.
Die ander twee departemente wat onderbestee het, is die departemente van Openbare Werke en Basiese Opvoeding. Die Departement van Openbare Werke se onderbesteding was R229 miljoen of 9,5% en dié van die Departement van Basiese Opvoeding was R520,7 miljoen of 11,2%.