Vyf appèlregters het aan die Staat straf uitgedeel oor grondeienaars wat nie betyds betaal is ná hul grond vir grondeise gekoop is nie.
Die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en sy departement is gestraf oor die wanbetaling van dié eise. Appèlregters L. Mpati, M. Navsa, S. Snyders, S. Majiedt en M. Wallis het beveel dat die minister en die departement asook die hoofgrondeisekommissaris en die streekkommissaris van grondeise in Gauteng en Noordwes, strafrente van byna R1 miljoen betaal weens betalings vir twee stukke grond wat te laat gedoen is.
Mnr. Willem Snyman en die maatskappy Mokala-beleggings het twee stukke aangrensende grond in Noordwes aan die minister en die departement verkoop ná ’n suksesvolle grondeis deur die Barolong ba ga Maribagemeenskap.
"Onbepaald" uitgestel
Hoewel die bedrag van R5,9 miljoen vir die twee stukke grond met oordrag van die grond aan die gemeenskap sou geskied, het die departement eers opdrag gegee dat die indiening van die dokumente met ’n maand en toe “onbepaald” uitgestel moet word omdat die departement nie die geld gehad het om Snyman en die maatskappy te betaal nie.
Intussen was Snyman sonder inkomste omdat hy sy boerderybedrywighede op die grond beeindig het in afwagting op die geld, wat hy nie gekry het nie. Die regters het gesê die onbestrede stelling in die hofstukke dat die departement eers vir gekoopte grond betaal nadat ’n hof beveel het dat betaling moet geskied, is “kommerwekkend”.
“Dié verdoemende stelling teen die departement is hoegenaamd nie deur die departement verduidelik nie. Dit is verontrustend dat ’n staatsdepartement só ’n houding kan inneem.
"Dit word sterk afgekeur. Besondere toegewydheid en delikate hantering van die plofbare situasie ten opsigte van grondeise word van staatsamptenare verwag. Grondeise is ’n emosionele kwessie en weiering van die departement om ooreenkomste te eerbiedig, sal ’n reeds veeleisende uitdaging vererger.”
Snyman en die maatskappy se regskoste in die appèlhof sowel as in die Grondeisehof moet deur die minister, die departement, die hoofkommissaris en die streekkommissaris betaal word.
10 April 2012