Die verslag oor oor bewerings van wanadministrasie, wanbestuur en onwettige optrede by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming is nou in pres. Jacob Zuma se hande.
Zuma sal eers dié verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) deurgaan voordat dit voorgelê word aan die Parlement se portefeuljekomitee wat hiermee belas is.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het die SOE versoek om bewerings van wanadministrasie, wanbestuur en onwettige optrede te ondersoek. Die wanoptrede het glo vanaf 1 Januarie 2006 tot 18 Februarie 2011 gebeur.
Onwettige toekenning van geld?
Die SOE se ondersoek dek die beweerde onwettige toekenning van geld of die uitgee van openbare geld of eien¬dom, onwettige of nie-goedgekeurde transaksies, maatreëls of praktyke rakende staatseiendom, ernstige wanadministrasie rakende sake van die departement en onbehoorlike of onwettige optrede deur amptenare.
Nkwinti het die portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming gevra om die bespreking van die verslag van die ondersoekeenheid eers van sy agenda te haal om Zuma tyd te gee om dit na te gaan. Hy het gesê dat dit onbedagsaam sal wees om inligting daarvan vry te stel terwyl die president die een was wat ‘n proklamasie oor die ondersoek uitgevaardig het.
Landbouweekblad het vroeër berig dat die aanvanklike ondersoeke na verskeie staatstoelaes het gedui op growwe misbruik waarna die SOE besluit het dit sal groter impak oor ’n korter tydperk hê as elke projek volledig in die volgende drie jaar ondersoek word.
Nkwinti sal die verslag wanneer dit afgehandel is, aan die Kabinet voorlê, waarna dit na die Parlement sal gaan.
8 Februarie 2012