Pres. Jacob Zuma se aankondiging dat die vrywillige koper/verkoper-beginsel in die grondwet aangetas gaan word, veroorsaak verdere onsekerheid, het dr. Pieter Mulder, leier van die VF-Plus gesê.
Pres. Zuma het in sy Staatsrede uitgewys dat die pas van grondhervorming te stadig is weens hierdie beginsel. Hy meen daar is 'n algemene instemming dat hierdie opsie nie die beste manier is om die grondkwessie te hanteer nie. Die Regering kon sover slegs 8% van sy 30% teiken vir die verdeling van grond teen 2014 bereik.
"Die Grondwet verlang dat die Staat die herstel van grondregte moet bewaarheid vir diegene wat daarvan ontneem is met die 1913 wet." Om hierdie rede is die Groenskrif vir Grondhervorming opgestel om 'n nuwe beleidsrigting te bied.
Projekte vir infrastruktuur
Zuma het ook verskeie infrastruktuur-projekte aangekondig wat moet poog om onder meer werkskepping in die land 'n hupstoot te gee.
Mulder meen hierdie projekte is 'n goeie manier waarop die Staat kan bydra tot werkskepping, maar hy meen talle nuwe en meer bemagtigingsmaatreëls gaan dit teenwerk. "Vir betrokkenheid en beleggings van die private sektor in dié projekte is sekerheid oor eiendomsreg nodig."
Me. Lindiwe Mazibuko, leier van die DA in die Parlement, het ook die president se uitspraak oor die gewillige koper/verkoper-beginsel verwerp. Sy het uitgewys dat dit 'n roekelose stelling van Zuma is dat die model gefaal het, terwyl die stadige pas juis weens die ondoeltreffendheid van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming is.
Vyf gefokusde programme
Zuma het aangekondig dat vyf geografies gefokusde programme gekies is wat strek van die ontwikkeling van 'n geïntegreerde spoor-, pad- en water-infrastruktuur in Limpopo tot die verbeterde uitvoer van vervaardigde produkte.
Hy het aangekondig dat uitvoerders van vervaardigde goedere later vanjaar goedkoper hawetariewe sal betaal. Boonop sal 'n suidoostelike sleutelpunt geskep word wat industriële en landbou-ontwikkeling asook die uitvoervermoë in die Oos-Kaap sal verbeter. Dit sal logistieke skakeling met die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal verbeter. Om landbouproduksie in die voormalige Transkei-gebied, wat deel van die Oos-Kaap is te verbeter, sal 'n dam by die Umzimvubu-rivier gebou word, het Zuma gesê.
* Lees ook Adjunkpresident Kgalema Motlante se siening van die koop-begisnel.
10 Februarie 2012