
Mnr. Andrew Makenete van die Musa-groep meen die huidige norme en standaarde vir finansiering van die Suid-Afrikaanse landbousektor is “nie meer relevant nie en in werklikheid struikelblokke vir die doelwit van inklusiewe deelnemende groei, wat ’n móét in Suid-Afrika is”.
Hy het ’n klip in die bos gegooi en gesê die lening wat pres. Jacob Zuma vir opgraderings aan sy Nkandla-woning by VBS Mutual Bank gekry het, wys daar is wel mense wat dink ’n belegging in stamgrond is moontlik.
Mnr. Russell du Preez, uitvoerende hoof van die RussellStone-groep, het gesê kommunale grond is “dooie kapitaal”, en daar is ’n regstreekse korrelasie tussen eiendomsreg en voedselsekerheid. “Waarom kan die hele Transkei nie titelaktes kry nie? Kyk na Indië – hulle doen dit in die noordelike deel.”
Dr. Cobus Oberholster, hoofbestuurder van finansiële dienste by BKB, meen ’n mens moet óm die kwessie van ’n gebrek aan titelaktes werk. “Gaan ons die verblyfsekerheidstelsels vir kommunale grond uitsorteer? Ek dink nie dit gaan in ons leeftyd gebeur nie.”
Hy sê daar is bestaande oplossings vir kollateraal en voorbeelde waar kommoditeite pleks van grond gebruik is. Mnr. Herman Marais, medestigter en besturende vennoot van Agri-Vie, het gesê Suid-Afrika kan by ander Afrika-lande leer waar daar al dekades lank in landboubesighede op grond sonder titelaktes belê word. Verder moet nuwe finansieringsprodukte ontwerp word wat meer geskik is vir klein entrepreneurs.