Slegs twee grondeise moet nog in Gauteng afgehandel word - dié van die plaas Krokodilspruit en die Suikerbosrand-natuurreservaat, sê me. Nandi Mayathula-Lehoza, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in die provinsie.
Luidens ‘n berig op News24.com sal die betrokke grond binnekort na begunstigdes oorgedra word aangesien me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, dié oordragte goedgekeur het.
“Die totale oppervlakte van landbougrond in Gauteng in 1994 was 774 285 ha. Die totale hektare wat tot dusver aan begunstigdes oorgedra is, is 35 599 ha – dit is ‘n totaal van 4.6% van Gauteng se landbougrond," sê sy.
Ondersteuning aan opkomende boere
Volgens Mayathula-Lehoza het haar departement ‘n ondersteuningsprojek op die been gebring wat hulp aan opkomende boere bied nadat die grond aan hulle oorgedra is. Hierdeur lei die departement die boere op om hul grond produktief te gebruik en om toegang tot finansiële ondersteuning te kry.
Die departement het reeds ondersteuning aan die begunstigdes van 36 hervormingsprojekte in die eerste kwartaal van die jaar gebied. Altesaam 54 plase is ook al besoek en studiegroepsessies is reeds met 13 boere gehou.
Die departement het ook 14 sakeplanne vir boere opgestel om hulle by te staan om toegang tot finansiering te kry.
Intussen sê me. Anette Steyn, die Demokratiese Alliansie se woordvoerder vir grondsake, die party het reeds vroeër vanjaar gehoor grondhervorming in die provinsie het al so ver gevorder.
“Ons vergader volgende week met die nasionale departement waar ons wil vra vir die jongste statistiek oor hoeveel grond in die land al oorgedra is, ensovoorts,” vertel Steyn.
1 September 2010