
Die afhandeling van grondeise gaan deur Kommissie vir die Herstel van Grondregte onder Operasie Phakisa versnel word. Só het me. Nomfundo Gobodo, hoof-grondeisekommissaris, aan die Parlement se portefeuljekomitee vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, bekend gemaak.
Alle uitstaande grondeise wat teen einde Desember 1998 ingedien was, sal afgehandel wees voordat die nuwe gestaakte eisproses oor 14 maande hervat moet word.
Gobodo het hierdie doelwit van Operasie Phakisa, wat die afhandeling van bestaande grondeise wil versnel, bekend gemaak toe sy die Kommissie vir die Herstel van Grondregte se jaarlikse vorderingsplan aan die Parlement se portefeuljekomitee voorgelê het.
Proses in hof ongeldig verklaar
Die Grondwethof het op 28 Julie verlede jaar die eisproses wat in 2014 heroopgestel was, as ongeldig verklaar en die Parlement 24 maande gegee om behoorlike openbare verhore te hou voordat hy die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte weer instuur vir bekragtiging deur pres. Jacob Zuma.
Intussen het ’n ANC-lid ’n private ledevoorstel ingedien waarin gevra word dat die afsnydatum vir die indien van nuwe grondeise tot 30 Junie 2021 toegestaan word. Dit is om op te maak vir die 24 maande wat voornemende eisers nie eise kon instel nie.
Gobodo het gesê dat altesaam 6 989 eise nog uitstaande van die sowat 80 000 wat ingedien is. Op sommige van die eisvorms is meer as een stuk grond geëis en daarom is reeds 79 212 eise teen einde 31 Desember 2016 afgehandel, het sy verduidelik. “Jy kan tien grondregte op een eisvorm hê. Ons het voorheen net die eisvorms getel en nie die grondregte nie.”
Om ou eise vinnig af te handel
Sy het verder verduidelik dat sommige familielede elkeen ’n eis vir ’n spesifieke stuk grond ingestel het en nie as ’n eenheid nie. Vir die kommissie om die doelwitte van Operasie Phakisa te bereik, sal hy verskeie administratiewe en besigheidsprosesse moet hersien om te verseker dat die ou eise vinnig afgehandel word.
Een van die onbevoegdhede wat die kommissie in 2015 aangedui het, was dat sy navorsingspan nie oor die vermoë beskik om die eise voldoende na te vors nie. Junior personeel van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, wat nie agtergrond in navorsing het nie, was met die navorsing belas.
Maar vanweë verlede jaar se ongeldigverklaring van die nuwe rondte grondeise, kon geld en hulpbronne, wat vir die instel van nuwe grondeise bedoel was, nou aangewend word om eise na te vors en ou grondeise te prioritiseer.
Altesaam 79 212 eise afgehandel
Die resultaat van die afgehandelde 79 212 eise is dat 3,3 miljoen hektaar grond aan begunstigdes oorgedra is en R11,63 miljard se vergoeding uitbetaal is. As diegene wat vir geldelike vergoeding gevra het, eerder die grond geneem het, sou ’n verdere 2,7 miljoen hektaar grondregte herstel kon word. Die koste van die afgehandelde eise is R36,5 miljard.
’n Eis word as afgehandel beskou wanneer die navorsing voltooi is, die geldigheid daarvan bepaal is en die Minister vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming dit bekragtig het.
’n Eis word as gefinaliseer beskou wanneer die vergoeding aan die begunstigde uitbetaal is of die titelakte van die grond in die naam van die begunstigde geregistreer is. Die kommissie beoog om 1001 eise in die huidige geldjaar af te handel en wil 724 eise in die huidige geldjaar finaliseer, 832 in die 2018/’19 geldjaar en 865 in die 2019/’20 geldjaar.
Hoeveel landbougrond?
Hoeveel van die 3,3 miljoen hektaar grond wat oorgedra is, is landbougrond?, wou komiteelede weet.
Me. Candith Mashego-Dlamini, adjunkminister van landelike ontwikkeling het aangedui dat die 3,3 miljoen hektaar nog nie gekategoriseer is nie. Daar word steeds aan die grondoudit gewerk.
Me. Leona Archary, adjunkdirekteur-generaal vir landelike infrastruktuurontwikkeling, wat tans as direkteur-generaal waarneem, het aangedui dat die grondoudit rakende private grond reeds voor die Kabinet gedien het. Dit was terug na die departement gestuur vir verfyning.
Die oudit sal hopelik weer voor einde Mei voor die Kabinet dien, waarna dit bekendgemaak sal word. Die grondoudit het aangedui dat die staat sowat 26 miljoen hektaar (22%) besit en dat 96 miljoen hektaar (78%) in private hande is. Maar hoewel die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming die stukke grond wat in die hande van die staat is, fisies geverifieer het, het hy gesukkel om te bepaal hoeveel grond daar werklik deur die verskillende rasse in die land besit word omdat die aktekantoor sedert die demokratiese bestel nie vir ras voorsiening maak nie.