Grondeisers by Wallmansthal buite Pretoria wil die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming voor die hof bring.
Dié stap word gesien as die enigste oplossing omdat die departement niks doen om onwettige grondvergrype op hul grond te keer nie. “Ons was al by die polisie, maar hulle sê ons kan nie ’n klag lê nie omdat die grond nog aan die staat behoort.
"Dit is óns grond en dit word onder ons uit gesteel sonder dat die Regering ’n vinger verlig,” sê mnr. Simon Makola, sekretaris van die gemeenskap se eiendomsvereniging. Hy sê die departement doen ook niks om ’n hofinterdik teen die besetting af te dwing nie.
Die titelakte is nog nie aan die eisers oorhandig nie. Volgens Makola het die departement gesê hulle mag nie hul intrek op die grond neem voor die infrastruktuur nie aangebring is nie.
Makola sê ’n polisiekaptein van Hammanskraal wat weens bedrog afgedank is, verkoop erwe sonder enige bewyse aan besetters. Sy familie het glo ook ’n eis op ’n deel van die grond ingestel, maar was nie suksesvol nie.
Duisend onwettige besetters
Me. Marietjie Peense, koördineerder van die plaaslike buurtwag, sê grondbesetters het waterputte en opslaantoilette in die vleilande op die grond opgerig en die gebied word erg besoedel. Sy sê ’n paar duisend onwettige besetters het sedert 13 Januarie op die grond toegesak en dit is duidelik ’n georganiseerde aksie.
“Ons is bekommerd. Die besetters is arrogant en versper paaie sodat plaaslike inwoners dit nie kan gebruik nie.” Die besetting het stuksgewys ’n geruime tyd gelede op klein skaal begin. Sedertdien het misdaad in die omgewing feitlik verdubbel.
“Die SA Polisiediens doen wat hy kan en het patrollies in die omgewing verskerp, maar sê wat die plakkers betref, is sy hande afgekap. Sonder dat ’n klag ingedien word, kan niks aan die saak gedoen word nie,” sê sy.
24 Januarie 2012