Openbare stellings oor grondgrypery en die nasionalisering van myne help nie om die regte vertroue binne die land en in die buiteland te skep om beleggings hierheen te lok nie, sê mnr. Pravin Gorhan, Minister van Finansies.
Gordhan het dit op ’n nuuskonferensie oor die land se mediumtermyn-bestedingsraamwerk by die Parlement, duidelik gemaak dat teen dié soort stellings gewaak moet word.
Uitwerking van groenskrif
Landbouweekblad wou by Gordhan weet wat die uitwerking van die groenskrif oor grondhervorming en uitsprake oor onteiening sonder vergoeding op beleggings in die landbousektor is.
Dit is bekend dat die ANC-jeugliga hom beywer om grond sonder vergoeding te herverdeel en om myne te nasionaliseer.
Gordhan het gesê “daar word ondeurdagte, openbare uitsprake gemaak, wat sommige mense as ’n politieke noodsaaklikheid kan beskou, wat nie help om die regte soort vertroue in die Suid-Afrikaanse ekonomie en in die buiteland te skep nie.
“As ons ernstig is oor werkskepping, ekonomiese en maatskaplike groei en dit voor enige ander belang stel, kan ons merkwaardige doelwitte bereik om tot die regte vlak van vertroue in ons land, die ekonomie en ons gemeenskap by te dra,” het hy gesê.
'Roekeloos en onverantwoordelik'
Intussen het dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, luidens ’n verklaring gesê dat die ANC-jeugleiers roekeloos en onverantwoordelik is met hul uitdagende uitsprake oor die nasionalisering van grond en die myne. Hy het ’n sitrusboeredag in Polokwane toegespreek.
Suid-Afrika het verlede jaar op agt na die meeste buitelandse beleggings in Afrika gekry. Dit is uiters kommerwekkend en plaas ernstige druk op die ekonomiese groeikoers in Suid-Afrika. Daar moet aanvaar word dat hierdie soort politieke uitsprake ’n belangrike rol in die vermindering van beleggings gespeel het.
Hy het gesê Angola het verlede jaar die meeste buitelandse beleggings in Afrika gekry met $10 miljard teenoor Suid-Afrika se slegs $1,6 miljard. In die verlede was Suid-Afrika die land wat die meeste buitelandse beleggings gelok het.
25 Oktober 2011