’n Jaar van harde werk lê voor vir die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming om daadwerklike pogings aan te wend om die land se grondchaos op te los.
Die groenskrif oor grondhervorming is een van die belangrikste kwessies wat die landbou in die land raak. Dit gaan vanjaar na die Parlement. Die konsultasieproses is in Desember verlede jaar voltooi, hoewel daar nog op ’n paar geskrewe bydraes gewag word. Volgens sy strategiese plan poog die departement om die witskrif vir grondhervorming teen Mei vanjaar goedgekeur te hê.
Op die jaarlikse lekgotla van die Parlement in Bela-Bela is daar opnuut gekyk na die Regering se voorrangsake wat landelike ontwikkeling en grondhervorming, onderwys, veiligheid, gesondheid en werkskepping insluit.
Rigting
Pres. Jacob Zuma sal in sy staatsrede, die aand van 9 Februarie, rigting aandui hoe die kwessies aangepak sal word. Die department sal ook die wetsontwerp op die beskerming van grond en die wetsontwerp op die landelike ontwikkelingsagentskap op koers moet kry.
Geen wetgewing van dié department of die een vir landbou, bosbou en visserye is nog na die Parlement verwys nie. Een van die wetsontwerpe van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye wat nog hangend is, is die nasionale wetsontwerp vir landbou-opleidingsinstellings.
’n Tameletjie waarop die landbousektor moet let, is die wysigingswetsontwerp van die SA Weerdiens. Daarvolgens kan boetes van miljoene rande opgelê word indien weerverwante waarskuwings sonder die toestemming van die SA Weerdiens uitgereik word.
24 Januarie 2012