
Grondhervorming is die prys wat vir versoening betaal moet word vir die land om te genees van ongeregtighede wat apartheid meegebring het, het mnr. Cyril Ramaphosa, Adjunkpresident, op ‘n ontbyt met die Persgalery van die Parlement gesê.
Grondeise is aan die begin van die maand vir ‘n tydperk van vyf jaar heroopgestel. Altesaam 3000 eise is reeds ingestel sedert die proses heropen is.
Ramaphosa het gesê die heropening van grondeise is ANC-beleid en hy ondersteun dit. “Dit is iets wat gedoen móét word. Dit is ‘n geskiedkundige ongeregtigheid en die wond moet genees word.”
Baie Suid-Afrikaners het nie die vorige sperdatum van 1998 gehaal nie en baie het gevoel hulle is ingedoen en moet ook die geleentheid kry om eise in te dien.
“As ons die pad van genesing wil stap en ernstig is oor versoening en rekonsiliasie dan is dit die prys wat ons sal moet betaal.
“Want apartheid was onbillik en het ‘n nalatenskap gelaat waar ons vir die ongeregtigheid moet betaal. Die probleem is dat die demokratiese Regering nou hierdie las moet dra om te betaal vir die sonde en ongeregtigheid van die verlede.”
Hy het bygevoeg dat innoverende maniere gekry moet word om die begrotingstekorte uit die weg te ruim wat grondhervorming strem.