Grond kan nie langer deur middel van die metode wat tans vir grondhervorming gebruik word, oorgedra word nie, sê mnr. Gugile Nkwinti, die Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling.
Luidens ’n berig op Fin24.com het hy onlangs aan die Swartbestuursforum gesê dat die staat in die toekoms grond aan swart kommersiële boere wil gee, omdat dit as ’n bedryf gesien word.
Volgens die berig is ’n Kodesa oor dié kwessie moontlik omdat al hoe meer invloedryke mense besef dat die proses wat tans gevolg word, nie die gewenste uitwerking het nie.
Prof. Mohammad Karaan, ’n lid van die Nasionale Beplanningskommissie, stem saam met dié standpunt. Hy sê dat die Kodesa só aangepak moet word dat dit uiteindelik nie net weer op ’n bespreking van al die ou bekende kwessies uitloop nie.
Onderhandelinge
Volgens Karaan steun hy prof. Shadrack Gutto, voorsitter van Unisa se Sentrum vir Afrika-renaissancestudies, se siening dat onderhandelinge oor hervorming weer moet plaasvind.
Hy meen dat die beleid nie net op sy vermoë om grond oor te dra beoordeel moet word nie, maar ook op die volhoubare gebruik van grond en om beleggersvertroue te skep.
Volgens Karaan is nuwe denke oor die proses nodig, wat die land se wyer doelwitte in ag neem. Hy sê verder dat die Groenskrif oor grondhervorming nie behoorlike antwoorde bied vir die fundametele kwessies wat bestaan nie.
Bron: Fin24.com
21 November 2011