
Die herstel van grondregte moet bespoedig word, of die Regering moenie skroom om onteiening toe te pas as hy nie 'n ander uitweg sien nie.
Dít was die boodskap wat menige politieke partye aan mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, oorgedra het toe grondkwessies in die Nasionale Vergadering bespreek is.
Die debat waar politieke leiers oplossings moes bespreek, het gou in 'n emosionele sirkus ontaard ontaard toe die EFF en die VFPlus haaks geraak het oor of grond gesteel is of nie en opswepery oor grondbesetting.
Gevaarlike uitlatings
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VFPlus, het gesê mense moet ophou om emosies op te jaag deur te sê ander het die grond gesteel. Hy het gesê dit is gevaarlike uitlatings aangesien Suid-Afrika 'n grondwetlike demokrasie is waar niemand grond gesteel het nie. Die wettige grondeienaars in Suid-Afrika het betaal daarvoor, en hulle het gewerk daarvoor.
“Daar moet ook weggekom word van die mite om te dink dat grond outomaties rykdom bring. Selfs al het jy grond moet jy hard werk om ryk te word, en ek is nie so seker of almal wat so graag grond wil hê, so graag hard sal wil werk op die grond nie.”
Die EFF se mnr. Sam Matiase het gesê die bewyse moet gebring word dat die grond nie gesteel is nie. Die EFF het hoewel Nkwinti aan die begin van die debat gevra het dat politici, soos die EFF, nie mense moet aanhits om onwettig grond te beset nie, 'n beroep op hulle ondersteuners gedoen om elke stukkie beskikbare grond te beset.
Die EFF het weer eens die Regering se aankope eerder as die onteiening van grond bevraagteken en voortgestel dat grond sonder vergoeding onteien moet word. Die IVP en die UDM het hulle stem tot die onteiening van grond toegevoeg, met vergoeding waar dit van pas is.