
Die fokus van grondhervorming, om grond wat aan kommersiële wit boere behoort te herverdeel, vat die kollig van werklike kwessies af. Mnr. Leon Louw, uitvoerende hoof van die Vryemarkstigting (FMF), sê as die werklike situasie rakende eiendomsbesit in ag geneem word, is die herverdeling van landbougrond ’n “baie onbelangrike” kwessie.
“Die grootste kwessie is grond vir mense wat in woongebiede wil bly om naby aan werksgeleenthede te wees. Die aantal mense wat werklik kommersieel wil boer, is baie min. Die meeste mense wil grond in stedelike gebiede besit,” verduidelik Louw.
‘Ondergrondse’ stelsel
Louw sê die statistiek en mites wat so gereeld deur politici aangehaal word oor hoeveel grond al aan voorheen benadeelde gemeenskappe oorgedra is, “is nonsens. Swart mense het nog nooit 13% van die grond (die statistiek wat in baie gevalle aangehaal word) gehad nie, die staat besit dit.”
Hy sê daar is soveel beperkende voorwaardes wanneer ’n staatshuis aan ’n individu gegee word, dat baie mense in vrees leef dat hul grond of woonplek van hulle weggeneem kan word. Die meeste mense het nie die volle titelaktes om te bewys dat hulle die grond of eiendom besit nie. Dié situasie het intussen gelei tot ’n ‘‘ondergrondse’’ verhuring of verblyfstelsel waar geen geskrewe kontrakte en dies meer aangegaan word nie.
Gegrond op dié stellings sê Louw as Verwoerd nou in informele nedersettings sou rondstap, sal hy dink hy moes die land al lankal aan die ANC oorgegee het, want hulle pas sy beleid toe.
Grondoordrag
Louw meen die feit dat opkomende boere nie die grond waarop hulle boer, ten volle besit nie, is een van die redes hoekom boerderye ná oordrag misluk. “As jy weet dat die staat jou enige tyd van jou kan grond kan afsit omdat jy nie die eiendom ten volle besit nie, hoekom gaan jy in daai eiendom belê?”
Besitreg word ook aangevoer as een van die redes hoekom ’n mens ’n luukse motor langs ’n plakkershut in ’n informele nedersetting sien.
Wat die kwessie oor die fokus op landbougrond betref, sê Louw dít en kwessies soos ’n vrywillige koper en ’n vrywillge verkoper word gebruik om die aandag van die werklike kwessies op die eiendomsverhoog af te lei. Dit kan as ’t ware as die bloulig-effek van ’n teaterproduksie beskryf word.
Die staat besit, volgens Louw, miljarde rande se eiendomme en grond in stedelike en dorpsgebiede wat gebruik kan word om grond aan mense te gee. ’n Volledige oudit van dié hoeveelheid grond is wel nodig, aangesien die staat glo nie weet hoeveel grond in sy besit is nie.