
Dit is bekend dat meer as 90% van die plase wat oorgedra is, in die moeilikheid geraak het sodat die departement genoop was om dit te herkapitaliseer.
Die Inkatha-Vryheidsparty (IVP) het vrae oor die herkapitalisering van die projekte en plase aan mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, gevra. Nkwinti het in sy parlementêre antwoord aangedui dat altesame 411 plase wat in die moeilikheid beland het, geldelike steun en ander vorme van ondersteuning van die departement gekry het.
In die boekjaar 2010/’11 is R1,3 miljard aan die plase bestee. Vanaf 1 April tot 31 Desember verlede jaar is R3,6 miljard aan altesame 595 projekte, insluitend die 411 plase, bestee om hulle weer op koers te kry.
Verslag saamgestel
Mnr. Vusi Mahlangu, hoof van strategiese ingrypings by die departement se grondhervormingsprogram, het by navraag gesê dat die R3,6 miljard ook geld insluit vir die koop van plase vir begunstigdes. Oor hoe die plase geïdentifiseer word wat hulp benodig, het Nkwinti gesê dat dit op provinsiale vlak gedoen word.
’n Verslag oor die skade word saamgestel en ’n sakeplan word vir elke plaas opgestel om sy toekomstige potensiaal te bepaal. Die herkapitaliseringsprogram vir die mislukte grondhervormingsprojekte (wat met alle erns in die boekjaar 2010/’11 begin is) is veronderstel om werkskepping, voedselsekerheid en vaardigheidsoordrag in die land te verseker.
Op ’n vraag oor watter kriteria gebruik is om geskikte boere aan te wys vir die grondhervormingsprogram het Nkwinti gesê dat begunstigdes gekies word na gelang van aansoeke wat ontvang word vir die verhuring van grond wat die departement gekoop het.
Die inligting op die aansoekvorm word gebruik om die vlak van kennis en kundigheid van die boer te bepaal, asook die hoeveelheid grond wat benodig word. Hy het gesê die meeste van die boere vir wie die departement help, is kleinboere.