Die proses rondom grondhervorming en die nasionale verwysingsgroep beweeg stadiger as verwag, sê die Landboubesigheidskamer (LBK).
Dr. John Purchase, hoof uitvoerende beampte, sê hulle het vermoed dat die proses langer gaan duur as wat mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, dit wou gehad het.
Nkwinti wou gehad het dat die verwysingsgroep, wat uit ses werkgroepe bestaan, reeds teen einde Maart vanjaar aan hom moes terugrapporteer. Purchase sê daar is egter nog baie kwessies wat binne die werkgroepe uitgestryk moet word. Die LBK is ook ’n lid van die verwysingsgroep.
“Die proses gaan langer duur, en dit is ook goed so, want dit is nie iets wat ’n mens moet aanjaag nie. Alles wat ons daar doen, moet op goeie feite en kennis gegrond wees,” sê Purchase.
Junie
Purchase voorspel dat Nkwinti teen Junie vanjaar reeds ’n vorderingsverslag sal moet hê wat hy aan die ANC se kongres in Bloemfontein kan voorhou. Met die LBK se tweejaarlikse kongres wat op 5 en 6 Junie plaasvind, verwag Purchase dat Nkwinti ook op dié kongres meer inligting oor die kwessie sal verskaf.
Nkwinti is een van die hoofsprekers op die kongres wat by die Champagne Sports-oord in die Drakensberge gehou word. Sy tema fokus op grondhervorming en die pad vorentoe vir Suid-Afrika.
Die ander hoofsprekers is me. Futhi Mtoba, voorsitter van Business Unity South Africa (BUSA) en prof. Marcos Fava Neves, ’n markstrateeg verbonde aan die Universiteit van Sao Paulo in Brasilië. Mtoba sal fokus op die rol van die BUSA binne die land se maatskaplike dialoog, terwyl Fava Neves sal uitbrei oor die toekoms van die globale voedselmark.
Prof. Mohammed Karaan, lid van die nasionale beplanningskommissie en die dekaan van die Fakulteit Landbouwetenskap by die Universiteit van Stellenbosch, en prof. André Jooste, hoof van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se afdeling vir marknavorsing, sal ook sprekers by die geleentheid wees.
17 April 2012