
Uitsprake deur politici dat voorheen benadeeldes ’n “grondhonger” ondervind, is ’n mite, het dr. Theuns Eloff op die kongres van Agri Noord-Kaap in Kimberley gesê.
Volgens Eloff word die mite van ’n grondhonger verpletter deur die feit dat die meerderheid eisers in die grondhervormingsproses eerder geldelike vergoeding verkies as grond om self daarop te boer.
Hy sê die staat het toegegee dat swak kapasiteit en koördinering sy grondhervormingspogingspogings knou.
Eloff het egter ’n beroep op landbouers gedoen om nie handdoek in te gooi en op te hou boer nie, maar die strukture ’n kans te gun. Hy het die nuwe Suid-Afrika ná twee dekades op drie vlakke beoordeel. Die Regering is op politieke gebied ’n punt van 6/10 vir politieke stabiliteit en vrede toegeken. Dié puntetoekenning was volgens hom egter 8/10 in 2007.
Op die gebied van ekonomiese groei was sy beoordeling ’n swak 5/10 vir redelike beleidsformulering, maar met te min groei en te min kapasiteit. Ingevolge Eloff se balansstaat van die sosio-ekonomiese en kulturele vordering het Suid-Afrika ook swak gevaar met ’n telling van 40% wat neig na 3/10. Probleme op dié gebied hou verband met plaaslike regering en die basiese dienste soos watervoorsiening, en die gebrek aan instandhouding en onderhoudswerk.
Met verwysing na redes wat tot die swak prestasie van die Regering aanleiding gee, sê Eloff ideologiese denke lei tot verkeerde beleidsrigtings, maar veral tot verkeerde praktyke. Een van dié praktyke was kaderontplooiing in die Regering wat aanleiding gegee het tot die gebrek aan kapasiteit en onbevoegdheid. Binnegevegte in die regerende party lê ook groot dele van die plaaslike en provinsiale regering lam.
Volgens Eloff is die nuwe Suid-Afrika nie so sleg as gevrees is nie, maar ook nie so goed as wat gehoop is nie. “Die gemiddelde Suid-Afrikaner deel die meerderheid van bekommernisse oor die toekoms. ’n Mens kan sê ons het ’n gedeelde visie, saamgevat in die grondwet en sy ideale, selfs die nasionale ontwikkelingsplan,” sê hy. “Ons verskil net om daarby uit te kom.”