
Negatiewe politieke uitsprake oor die eienaarskap van landbougrond het tot dusver min uitwerking op plaaspryse in die Noordoos-Kaap gehad aangesien potensiële kopers in die meerderheid is in dié streek.
Die finansiering van transaksies is egter ’n knelpunt en is die rede waarom plase deesdae langer neem om van eienaar te verwissel.
Dit is die siening van mnr. John Keevy van Keevy Auctioneers & Estate Agents in Port Elizabeth, wat 35 jaar by die verhandeling van eiendom in die Oos-Kaap betrokke is. Hy sê dat boere wat werklik ernstig oor kommersiële landbou is, hulle min aan al die warm lug rondom grondbesit in Suid-Afrika steur.
“Ja, hulle is kieskeurig en doen deesdae behoorlik huiswerk vóórdat hulle ’n aanbod op ’n plaas maak. Maar hulle druk deur as hulle eers besluit het dis ’n goeie belegging.”
Markpryse
Volgens Keevy wissel die pryse vir weidigingsplase in die distrikte Indwe-, Elliot- en Maclear vanaf gemiddeld R3 500/ha vir bergagtige plase tot so hoog as R70 000/ha vir hoëpotensiaallande wat onder spilpunte is.
Hy sê dit is onsin dat wit boere ongeneë is om hulle plase aan swart boere te verkoop. “Die administratiewe rompslomp, waar plase deur die Regering gekoop word, maak dit egter moeilik om so ’n transaksie vinnig te beklink. Baie van hierdie plase (veral as dit ’n hoëpotensiaalplaas is) word dan weer op die ope mark aangebied.
“Ek kry feitlik daagliks oproepe van voornemende swart boere wat wil hoor of daar nie ’n stukkie grond in die mark is nie. Finansiering is egter ’n probleem vir hulle. Daar is egter ook heelwat swart sakemanne wat kapitaalkragtig is en van die kleiner plase wat in die mark kom, opraap.”