
Meer grondhervormingsprojekte in die Wes-Kaap moet welslae behaal, en daarom gaan distrikskomitees vir grondhervorming binne drie maande aan die gang kom om hervorming behoorlik op dreef te kry.
Só het mnr. Mogale Sebopetsa, waarnemende hoofdirekteur van boeresteun en -ontwikkeling van die Wes-Kaapse landboudepartement, tydens ’n “Undercover Farming”-konferensie naby Franschhoek gesê. Sebopetsa, die genooide spreker, het oor die evaluasie van grondhervorming in die Wes-Kaap gepraat.
Altesame 52 grondhervormingsprojekte uit 135 projekte in die Wes-Kaap wat by ’n studie betrek was, was onsuksesvol, terwyl die res van die projekte gewissel het tussen baie suksesvol en gemiddeld suksesvol.
Faktore wat by suksesvolle projekte gevind is, was onder meer dat almal BTW- en belasting-geregistreerd is en bankrekeninge het. Almal voldoen aan arbeidswetgewing in terme van minimumlone, almal het marktoegang, ’n betroubare waterbron, ’n goeie kontantvloei, goeie rekordhouding en ’n werkbare sakeplan gehad.
Die mislukte projekte het daarenteen geen marktoegang gehad nie, geen sake- en operasionele planne nie, geen of min kundigheid in pag gehad nie, en ook geen mentorskap-bystand nie. Voorts het hulle geen rekordhouding gedoen en geen ondersteuning van kommoditeitskomitees gehad nie.
Hy meen vennootskappe tussen die Regering en die private sektor is belangrik vir sukses, en mentorskappe is noodsaaklik. Dit is ook belangrik dat na die behoud van grond as hulpbron omgesien moet word, en dat die hele fokus nie nét gerig moet wees op wins en marktoegang alleen nie. “Boere kan daardie mentorskap bring,” het Sebopetsa gesê.
?* Mnr. Arthur Lenk, die Israeliese ambassadeur in Suid-Afrika, het gesê Israel as landbou-wêreldleier kan baie help om grondhervormingsprojekte in Suid-Afrika suksesvol te maak. “Israel het 50 jaar se ondervinding oral in Afrika waarin kennis gedeel word.”
Modelle vir sukses met projekte in Suid-Afrika bestaan, en word reeds toegepas by sowat 25 projekte in die land – waaronder Gauteng, Mpumalanga en Limpopo.