Dit wil voorkom of die Regering die grondkwessie in Suid-Afrika bloot as ’n politieke speelbal gebruik om sy aansien by sy ondersteuners te poets.
Dit is egter ’n feit dat indien die grondkwessie in Suid-Afrika nié bevredigend opgelos word nie, die ander probleme wat die land in die gesig staar, ook nie opgeklaar word nie, sê mnr. Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad.
Burgess, wat die Landbouekspo tydens die Anibrandfees op Uitenhage geopen het, het gevra dat ’n grondoudit spoedeisend gedoen moet word om vas te stel hoeveel grond reeds in die hande van swart mense is.
http://www.landbou.com/nuus/nuus-artikel/grondoudit-gaan-bespoedig-word
’n Landbouvereniging by Ladysmith in Kwa-Zulu Natal het ’n paar jaar gelede pogings aangewend om te verseker dat bykans 30% van die distrik se grond in die besit van swart boere sou kom. “Dit is egter gekortwiek toe die Staat in gebreke gebly het om sy kant te bring om vir die grondoordragte te betaal.
Graan SA het meer swart boere as Staat gevestig
“Graan SA het vandag meer swart as wit lede. Hulle het daarin geslaag om meer kommersiële swart boere suksesvol te vestig as die pogings wat die Regering aangewend het. Daar is talle ander voorbeelde waar wit kommersiële boere groot sukses met transformasie behaal het.
"Wat ek nie kan verstaan is waarom die Suid-Afrikaanse Inkomstediens so suksesvol is, terwyl die res van die staatsmasjinerie meestal in wanorde is. Kan dit wees dat die Regering doelbewus grondhervorming vertraag net om wit boere by te kom,” het Burgess gevra.
Hy het daarop gewys dat landbouproduksie wêreldwyd teen 2050 moet verdubbel om te verseker dat daar genoeg kos vir almal sal wees. “Dit is meer kos as wat gesamentlik in die ganse geskiedenis van die mensdom geproduseer is. Die hoë prys wat reeds vir kos betaal word en feit dat armes die grootste gedeelte van hulle besteebare inkomste daaraan afstaan, verklaar waarom daar al in 33 lande voedsel-onluste was.”
Volgens Burgess het die persentasie geld wat die armste 30% van die bevolking van hulle maandelikse inkomste aan kos in die land bestee van 29% in 2008 tot 36,4% in Oktober verlede jaar toegeneem. Vir die rykste 30% van die bevolking was die vergelykende besteding slegs 2,3% en 2,9%.
Boere gaan die planeet se ‘elite’ word
Hy het ook die toekomskundige Li Edelkoort, aangehaal wat voorspel dat die landbougemeenskap die planeet se nuwe elite gaan word omdat hulle die wêreld sal moet klee, huisvesting, voedsel en brandstof verskaf en hopelik ook gesond moet maak. “Ongelukkig is grond ’n uitputbare bron en word landbou uitgebrei na dele van die wêreld waar dit nie tuishoort nie, soos in die Amasone en in besonder in Afrika waar meer as die helfte van die globale grondtransaksies tans plaasvind.”
Burgess se ondanks die feit dat die Staat se salarisrekening 40% van algehele besteding in lyn is met wat in Noorweë en Frankryk betaal word, is daar in Suid-Afrika ’n kritiese gebrek aan menslike hulpbronne. “Dit is nie volhoubaar dat die gewone belastingbetaler vir elke rand wat verdien word, 60 sent aan die Staat moet betaal nie. Suid-Afrika betaal ook gans te veel aan die opgradering van infrastruktuur en elektrisiteit.”
30 April 2012