
Die anker van voedselsekerheid, die kommersiële boere wat kos aan die land voorsien, gaan die ergste seergemaak word as die grondplafon op ‘n maksimum van 12 000 hektaar of slegs twee plase gestel word, het dr. Theo de Jager, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-unies, gesê.
Die ANC het dié besluit by sy lekgotla geneem in sy pogings om genoeg landbougrond vinniger beskikbaar te kry om te herverdeel.
Die nuusagentskap Sapa berig dat mnr. Gwede Mantashe, ANC sekretaris-generaal, gesê het dat die lekgotla besluit het dat die maksimum grondeienaarskap 12 000 hektaar of twee plase is vir beide natuurlike en/of wetlike persone. Grondeienaarskap deur buitelanders sal ook verbied word.
Buitelanders sal egter grond vir ‘n bepaalde tydperk kan huur. Hy het verder gesê dat die ANC ook die verpligte bekendmaking van hoeveel grond besit word, voorstaan.
De Jager het gesê hierdie aankondiging is net so ‘n groot slag vir die landbou as wat die heropening van grondeise was. Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het by elke konsultasie vanuit alle oorde, sterk argumente teen dié maksimum gekry, maar verkies om dit te ignoreer. “As daar meer ervaring oor die landbou in die ANC was of oor breër ekonomiese aangeleenthede, dan kon mens op meer deursigtigheid in die gesprek kon hoop.
“Die ergste is dat versnelde grondhervorming nie op die manier aangespreek kan word nie. Dit gaan 'n baie meer afbrekende as opbouende proses wees.”
De Jager het gesê daar is ‘n fundamentele misverstaan van hoe die landbou-ekonomie werk. “Daar is ‘n groot verskil van wat jy met 12 000 hektaar in die Boland kan verrig as wat jy in die Karoo daarop kan vermag.
Hy vra wat gaan word van die Ingonyama-trust in Kwazulu-Natal, wat meer as 2,8 miljoen hektaar besit. (Koning Goodwill Zwelithini is die enigste trustee van dié trust.)
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, het die aangeleentheid as hartseer en uiters kortsigtig beskryf. “Watter wetenskaplike studie is gedoen en watter ekonomiese faktore is in ag geneem?
“Wat moet gedoen word om rasionaliteit op die tafel te sit? Die ANC spesialiseer al hoe meer daarin om te kry dat goed nie werk nie.”
Van Zyl het gesê die party maak die landbou, wat ‘n ekonomiese proses is, ‘n politieke proses en die uitkoms hiervan is selfs nie in die beste belang van die nuwe toetreders tot die bedryf nie.
* Berig deur Joylene van Wyk en SAPA.