
‘n Behoefte aan grondhervorming bestaan, maar om 'n grondplafon te plaas op diegene wat 'n bydra tot die land se ekonomie lewer, maak nie sin nie, sê oud-pres. FW de Klerk.
Dit kom nadat die ANC onlangs op sy lekgotla besluit het om 'n grondplafon van maksimum 12 000 hektaar of twee plase voor te stel as poging om grondhervorming vinniger te laat geskied.
De Klerk het oor die kwessie gepraat na afloop van sy toespraak by die FW de Klerk-stigting se konferensie ter viering van 25 jaar sedert 2 Februarie 1990.
Hy het gesê “groter” is nie noodwendig sleg nie. “Die groter boere is belangrik, maar net so is die middelslag- en kleinboere.”
Die groot boere is die grootste werkskeppers en daar moenie struikelblokke voor ekonomiese geleenthede in die landbou geplaas word nie, het hy gemaan.
Dr. Johann Rupert, sakemagnaat en wynboer, het na afloop van die konferensie gesê gemeenskaplike (kommunale) boerdery en kommunisme werk nie in boerdery nie.
“Wie dink hulle produseer al die tamaties, aartappels en graan in die land. Daar is sowat 40 groot boere wat die land voed, mense werk gee en goed na hulle kyk.”
Toe Ghana in 1957 onafhanklik geword het, was slegs een Afrika-staat suid van die Sahara 'n netto invoerder van voedsel. Rupert twyfel of daar vandag één is wat 'n netto uitvoerder van voedsel is.
“Ons moet mense met opleiding help. Kommunisme werk nie in boerdery nie. Sal jy in die nag opstaan vir 'n siek dier van die staat? Ek sal nie, maar ek sal vir my eie siek koei opstaan.”
Rupert vertel hulle het 20 jaar gelede 'n suikermeule in Komatipoort gebou, waar swart boere op 150 hektaar elk geboer het. “Ons het die sentrale dienste aan hulle verskaf. Toe ons vyf jaar later teruggaan daarheen, het een van die boere, 'n vrou, 23 boere uitgekoop. “Sy het die hoogste suikerproduksie per hektaar gehad.”