
Die ANC se idee van ’n grondplafon van 12 000 ha word in die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit ingeskryf as die klousule oor die “beperking op die besit van private grond”.
Só het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, vroeër die week opgewonde aan Joylene van Wyk in 'n eksklusiewe onderhoud vertel. (Dít is deur pres. Jacob Zuma in sy staatsrede op 12 Februarie bevestig.)
“Die doel van die 12 000 ha-beperking is om ongelyke grondeienaarskap reg te stel. Ek is baie bly die ANC het sterk na vore gekom oor die beperking op grondbesit én die 50-50-beleidsraamwerk. Dit gaan verandering in ons land meebring.”
Mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal van die departement, sê die wetsontwerp is in ooreenstemming met die voorstelle wat in September 2011 in die Groenskrif oor Grondhervorming gepubliseer is. “Die voorstelle val onder die viervlakstelsel van grondbesit. Dit behels dat staatsgrond en openbare grond slegs verhuur mag word, dat daar ’n beperking op die besit van private grond moet wees, dat buitelanders nie grond mag besit nie (maar dit vir ’n minimum van 30 jaar kan huur) en dat voorsiening gemaak word vir kommunale grondbesit met sekere institusionele gebruiksregte.”
Shabane het gesê die kwessie van vrypag met ’n beperking op die besit van private grond is die afgelope drie jaar breedvoerig met die georganiseerde landbou bespreek. “Daar is geen rede tot paniek nie. Die voorstel is welbekend aan die bedryf. Hy het net nie geweet wat die aantal hektare van die grondplafon sal wees nie,” volgens Shabane.
Hy het ook gesê dat Nkwinti deur verskeie groeperinge in die georganiseerde landbou genader is wat hulle bereid verklaar het om die voorstel as loodsprojekte in verskeie streke in die land – die Vrystaat, Noordwes, Limpopo en die Wes-Kaap – toe te pas. Hy het onderneem om met dié groepe saam te werk.
Nkwinti het gesê grond vermeerder nie, maar mense word meer. “Ons moet die grond gelyk verdeel. Baie mense verwerp die 12 000 ha-idee, maar dit gaan nie net oor diegene wat nou grond besit nie.”
Met Nkwinti se besoek aan Wildbedryf SA in Limpopo het hy ’n groot stuk ongebruikte grond op Alma gesien wat aan die Amerikaanse miljardêr mnr. Warren Buffet behoort. “Die grond is in ’n arm gebied geleë, en daar word niks daarmee gedoen nie. Ons kan nie aanhou om reuse en dwergies in grondeienaarskap te hê nie.”
Die ander beleidsvoorstel waaraan steeds gewerk word, is dat 50% van ’n boer se plaas aan plaaswerkers gegee word.
“Ons praat met boere daaroor. Dit is ’n morele vraagstuk, nie ’n politieke een nie. Boere maak baie geld met die hulp van plaaswerkers. Uiteindelik het die plaaswerkers niks om daarvoor te wys nie.”