
Beperkings op grondbesit, soos voorgestel deur mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sal daartoe lei dat groot landbou-maatskappye, soos McCain’s en ZZ2, van Suid-Afrika onttrek, sê mnr. Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake.
In ‘n mediaverklaring sê Jansen van Rensburg dat dit gewis voedselsekerheid in die land sal skaad aangesien produktiewe boere eenvoudig minder kos sal kan produseer.
Hy meen ook dat instemming tot grondplafonne ’n regspresedent sal skep en dat dit ook die Regering die mag sal gee om grondbesitbeperkings afwaarts aan te pas. Indien grondeienaars in beginsel met die beleid saamstem, sal hulle amper geen regsmiddel hê nie.
AfriSake meen die voorstel is nie toepasbaar nie en sal net frustrasie tot gevolg hê. Die mislukking van die proses sal dan op grondeienaars se skouers gelê word. “Laat die vryemarkproses grondbesit bepaal. ’n Vryemarkproses sal grondbesit toeganklik maak vir almal wat dit kan en wil besit. Indien die Regering meen dat grond te duur is, kan hulle die honderdeduisende hektaar regeringsgrond aan die mark oopstel. Dit sal grondpryse afbring, baie goedkoper vir die Regering wees, sosiale stabiliteit verseker en groter mededinging in die landbousektor aanwakker,” het Jansen van Rensburg gesê.
Verskeie vrae word ook gevra: Sal beperkings op grondbesit ook geld vir tradisionele grond? Sal grondbesitbeperkings ook van toepassing wees op industriële en residensiële eiendom? Hoe sal suksesvolle boere, ongeag hul velkleur, kan uitbrei?
Jansen van Rensburg meen die voorstel wys daarop dat die ANC oor grondbesit wil onderhandel aangesien ’n tipiese strategie van die politieke party is om met radikale voorstelle voorendag te kom en sodoende hul teikens die skrik op die lyf te jaag. Dit is egter nog onduidelik wat die ANC se vertrekpunt vir onderhandeling is.