
Begunstigdes van grondhervorming kan weer eens tweede kom wanneer grondplafonne vir landbougrond ingestel word, sê mnr. Theo Boshoff, bestuurder: Regsintelligensie by Agbiz.
Die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit, wat voorsiening maak vir die daarstel van grondplafonne en ’n langtermynhuurstelsel van landbougrond vir buitelanders, is volgens Afrisake tot 17 Mei verleng. Dit gee belanghebbendes meer tyd om die voorgestelde wetgewing deur te gaan en kommentaar te lewer.
Boshoff sê die staat wil basies met die wetsontwerp self bepaal hoeveel hektaar grond ’n groot-, medium- en kleinskaalse boer mag besit en die eienaar dwing om enige oorskot grond aan die staat beskikbaar te stel vir herverdeling.
Eerbare gedagte?
“Met die eerste oogopslag lyk dit na ’n eerbare idee dat die staat van die rykes gaan vat en aan die armes gee. Maar as mens eers begin dink aan die praktiese gevolge van hierdie wetsontwerp, besef jy dat die begunstigdes van grondhervorming weer eens aan die kortste end trek.”
Boshoff sê deur die instelling van grondplafonne, sal die departement met lappies grond sit wat lukraak oor ’n streek of distrik versprei sal wees.
In dié stadium bestaan geen aanduiding hoe grondplafonne werklik sal lyk nie. Dit is dus onmoontlik om vas te stel hoeveel grondeienaars in ’n sekere gebied gedwing sal word om ’n deel van hulle grond te verkoop of wat die grootte daarvan sal wees.
Hoe groot moet plaas wees?
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het al aangedui dat belanghebbendes sal moet ooreenkom of ’n kleinskaalse kommersiële plaas op 1000 hektaar gestel, ’n mediumskaal kommersiële plaas 2 500 hektaar en ’n grootskaalse kommersiële plaas op 5 000 hektaar vasgestel moet wees. ’n Plafon van 12 000 hektaar is ook voorgestel vir bosbou, wildplase en hernubare energieplase, veral plase vir wind-energie. Oorskot grond tussen hierdie kategorieë sal onteien en herverdeel word.
Hierdie manier om grond te selekteer, blyk volgens Boshoff ouderwets te wees en neem nie die behoeftes van die begunstigdes in ag nie.
Afgesnyde stukke gronb
Geen versekering bestaan dat die afgesnyde stukke grond bewerkbare grond sal wees, toegang tot water, paaie of munisipale dienste sal hê wat kritiek is indien die begunstigde ’n aspirant boer is.
“Verder terwyl die hoofeiendom ’n ekonomies lewensvatbare eenheid mag wees, is daar geen versekering dat die grond wat as ’n “oorskot” gesien word, ’n lewensvatbare eenheid in eie reg sal wees nie.”
Stukkies oorskotgrond
Boshoff sê indien ’n begunstigde slegs ’n klein stukkie oorskotgrond kry waarop hy moet boer, sal hy steeds moet meeding in ’n wêreldwye ekonomie, maar sal die geleentheid ontneem word om voordeel te trek uit dit wat ekonomie van skaal bied. Só ’n situasie mag hulle tot mislukking doem.
Boshoff sê mens kan dus nie help om te wonder of die begunstigdes beter daarby sal baat vind as die sowat R2,5 miljard wat jaarliks vir grondhervorming geoormerk word, nie eerder gebruik word om bestaande landboubesighede vir begunstigdes aan te koop nie.