
In 'n ontleding van grondverkope in drie provinsies vanaf Julie verlede jaar tot Junie vanjaar, is tekens van groei in grondpryse gevind. Die ontleding is gedoen op transaksies vir grond wat groter is as 10 ha in Mpumalanga, die Noord-Kaap en Noordwes.
In Mpumalanga was daar 'n dalende neiging in net een van die ses distrikte. Grondpryse het veral gestyg in die distrik Amsterdam (9,8%). Altesame 465 transaksies het 105 915 ha teen R2,563 miljard behels. Daarvan was 84 (18,1%) ooreenkomste van kleur, wat 28 347 ha (26,8%) teen R722 miljoen behels het. Die meeste transaksies (34%) was vir grond kleiner as 50 ha.
In die Noord-Kaap is 289 transaksies in 21 distrikte beklink. In 15 (71,4%) van die 21 distrikte is stygende prysneigings waargeneem. Distrikte wat goeie prysstygings aangeteken het, sluit in Barkly-Wes (9,7%) en Carnarvon (7,7%), terwyl 'n groot daling voorgekom het in Prieska (14,7%).
Transaksies het 690 421 ha teen R2,406 miljard behels. Daarvan was 29 transaksies van kleur (10%), wat 125 439 ha (18,2%) teen R412 miljoen (17,1% van die algehele waarde) verteenwoordig. Altesame 71% van die transaksies was vir grond groter as 300 ha.
LEES: Meer oor grondsake in Suid-Afrika
Slegte nuus
Sake het egter nie so goed gelyk in Noordwes nie. Altesame 646 transaksies het in 14 distrikte in die provinsie plaasgevind. Agt van die distrikte se pryse het gedaal, met die distrikte Marikana (17,7%) en Zeerust (16,7%) wat groot dalings gesien het.
Altesame 203 249 ha is in Noordwes verhandel teen R4,872 miljard. Daarvan was 104 (15%) ooreenkomste van kleur, wat 10,8% van die totale waarde behels het. Altesame 27% van die transaksies was vir grond kleiner as 50 ha.
Statistieke vir ál die provinsies is op Landbou. com beskikbaar, asook meer besonderhede, soos wie die transaksies aangegaan het. Klik hier.
Dit behels:
¦ Statistieke.
¦ Besonderhede oor alle plaasverkope binne ’n distrik.
¦ Ontleding van die randwaarde per hektaar van transaksies in elke distrik.
* Johann Bornman is ’n ekonoom en voorsitter van Agri Development Solutions.