
Grondpryse in die Hexriviervallei is “mal”, en tot ’n miljoen rand per hektaar word al aangebied.
“Dit wys op die ongelooflike geleenthede in die vallei,” het mnr. Francois Rossouw, eienaar van die Mooigezicht-tafeldruiflandgoed in die Hexriviervallei, tydens ’n seminaar oor produksiekoste gesê.
Mooigezicht is pas as die Boer van die Jaar deur Landbouskrywers SA se Wes-Kaapse tak aangewys. Rossouw het tydens die Agriworks Landbou-ekspo naby Stellenbosch gesê terwyl die kosteknyptang stywer span en produksiekoste op alle maniere laer gehou moet word, “is die grootste uitdaging om nie gehalte in te boet en te benadeel nie”.
Om voor te bly, is noukeurige rekorhouding noodsaaklik. “Ons rekords strek dekades terug en maak dit makliker om neigings te sien en daarop te reageer. Insiggewende statisitiek is die steunpilaar van reaktiewe besluite om kostebesparings te implementeer vir langtermyn beplanning en oorlewing.”
“As jy nie meet nie, gaan jy nie weet nie,” is die boerdery se leuse. Statistieke van die tafeldruif-studiegrope deur Frudata gee ’n duidelike, oorhoofse prentjie van die bedryfsgemiddelde “en hoe ons daarmee vergelyk”.
Rossouw het gesê hul boerdery het ’n winsdelingskema vir die bestuur en personeel. Elke plaas het sy eie finansiële administrasie en dit dien as aansporing om eienaarskap en verantwoordelikheid te neem. “Dit is goed as almal snags wakker lê oor probleme.”
Arbeid kan tot R82 000 per hektaar op ’n druiweplaas beloop, en daarom is arbeid uiters belangrik.