
Grondpryse in 20 van die 43 distrikte in die Vrystaat het die afgelope jaar gedaal, maar in die ander 23 distrikte is die neiging opwaarts.
Van die Vrystaatse distrikte waar grondpryse die afgelope jaar gestyg het, is Bultfontein, Philippolis en Ventersburg.
Dié inligting is afkomstig van 'n ontleding van grondverkope in Suid-Afrika – van transaksies vir grond wat groter is as 20 ha in die Vrystaat vanaf Julie 2015 tot Junie 2016. In dié tyd is 696 ooreenkomste in 43 distrikte gesluit wat 299 210 ha teen R3,250 miljard behels het.
Transaksies van kleur
Daarvan was 74 transaksies van kleur – 11 % van die totaal. Transaksies van kleur sluit in die tussen individue, regeringsaankope van landbougrond, asook grond verkry vir munisipale gebiede. Dit het 23 609 ha (11%) behels wat teen R352 miljoen, 10,8% van die totale waarde, verkoop is.
Net 58 transaksies (8%) was vir grond kleiner as 50 ha, terwyl 49% van die transaksies vir grond groter as 300 ha was.
Van die distrikte waar grondpryse gestyg het, is Bultfontein, Philippolis en Ventersburg.
In Bultfontein is agt transakies van 2 297 ha aangegaan teen ‘n gemiddelde prys van R39 793 per hektaar. Die gemiddelde styging in die prys van grond in dié tydperk is 21,3%.
Philippolis
In Philippolis was die gemiddelde prysstyging 18,5%. Altesaam agt transaksies vir 6 429 ha is die afgelope jaar in dié distrik beklink, teen 'n gemiddelde prys van R10 828 per hektaar.
Die gemiddelde styging in grondpryse in Ventersburg was 17,4%. Die gemiddelde prys van die 15 transaksies van 5 149 hektaar was R10 524 per hektaar.
Lees die verskillende afdelings van die ontledings van Plaasverkope op Landbou.com hier:
* Statistiek oor die verhandeling van landbougrond per distrik binne 'n provinsie vir die afgelope 12 maande.
* Opsomming: Meer besonderhede oor plaasverkope binne 'n distrik vir die afgelope 12 maande.
* Verspreiding bevat besonderhede oor die randwaarde per hektaar van transaksies in elke distrik van Suid-Afrika.
* Johann Bornman is 'n ekonoom en voorsitter van Agri Development Solutions.