Kommer heers oor die stand van sake by die Wes-Kaapse departement van grondhervorming en landelike ontwikkeling nadat grondrestitusie-dokumente glo in Guguletu gevind is.
Me. Annette Steyn, die Demokratiese Alliansie (DA) se woordvoerder vir grondsake, sê dit is onrusbarend om te weet dat sulke dokumente moontlik nie behoorlik bewaar is nie.
Landbou.com het vroeër bekend gemaak dat afskrifte van grondrestitusie-dokumente deur ’n verbyganger in Guguletu gevind is. Die persoon het die departement gekontak en beamptes het die dokumente gaan haal.
’n Saak van diefstal is by die polisie aangegee, en die hulp van mnr. Willie Hofmeyr, die hoof van die spesiale ondersoekeenheid (SOE), is ingeroep. Lees meer daaroor hier.
Korrupsie?
Steyn sê mnr. Gugile Nkwinti, minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, vermoed al ’n geruime tyd dat korrupsie in dié departement plaasvind.
Sy sê as sulke dokumente in die hande van die verkeerde individue beland, kan dit ernstige nagevolge hê vir die begunstigdes en die grondeienaars wat by ’n eis betrokke is.
“Iemand kan so ’n afskrif van ’n eis vat, na die kantoor toe gaan en vra hoe sy of haar eis vorder. En omdat die departement se sake so deurmekaar is en daar blykbaar probleme met hul databasis bestaan, gaan niemand dan weet dit is ’n kansvatter nie. Die dokumente kon dalk ook inligting bevat van geld wat al aan begunstigdes uitbetaal is en dít behoort nie openbare inligting te wees nie,” aldus Steyn.
Ondersteuning
Intussen sê me. Annelize Crosby, Agri SA se parlementêre verteenwoordiger, hulle sal ’n ondersoek deur die SOE ten volle steun.
“Daar is baie vrae wat by my opkom, soos hoe en hoekom.”
Crosby sê dit is baie belangrik dat bepaal moet word of behoorlike beheerstelsels in die departement bestaan of nie, en as dit nié bestaan nie, moet daar dringend opgetree word.
16 September 2011