Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se onderbesteding vir die 2009/’10-geldjaar het teen die vierde kwartaal van 2009 op R536,4 miljoen te staan gekom.
Luidens ‘n verslag van die Parlement se staande komitee, wat alle departemente monitor, is dit 8,39% van die departement se totale begroting. Die verslag is op 7 September goedgekeur.
Volgens die verslag skryf die departement die onderbesteding toe aan veranderinge in sy departementele mandaat, wat nou landelike ontwikkeling insluit, nuwe programme en ‘n aantal vakante poste. Die onderbesteding het by administratiewe-, grondhervormings- en landelike ontwikkelingsprogramme voorgekom.
Toelae vir grondhervorming
Wat grondhervorming aanbetref, is ‘n bedrag van R407,3 miljoen nie bestee nie. Die departement het by die Nasionale Tesourie aansoek gedoen om R500 miljoen van die fondse vir grondhervormingstoelae na die restitusieprogram te skuif, maar slegs R100 miljoen is hiervoor goedgekeur.
Dié verskuiwing is in November verlede jaar goedgekeur, en die tydsbestek om die oorblywende R400 miljoen in die vierde kwartaal te bestee, was te kort.
R12 miljard se betalings uitstaande
Die komitee is ontevrede en bekommerd oor die departement se besteding van groot hoeveelhede staatsgeld aan hofsake wat grondeienaars aanhangig maak. Volgens die komitee word buitensporige bedrae op dié hofsake en ongekwantifiseerde grond bestee, terwyl dit aangewend kon word om grondeise af te handel.
Luidens die verslag het die departement hom tot grondtransaksies van R7,5 miljard verbind, wat intussen na R12 miljard gestyg het weens howe wat hom dwing om te betaal. Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het opdrag gegee dat R700 miljoen se hofbevele reeds betaal word, en die uitstaande hofbevele sal betaal word sodra dit geregistreer is.
Sowat 4 000 grondeise is tans uitstaande, maar dié eise is nog nie nagevors nie, en die departement het onderneem om die proses voor die einde van die 2010/’11-geldjaar af te handel. Dié eise kan die departement nog nie in geldwaarde kwantifiseer nie.
Vakante poste
‘n Bedrag van R79 miljoen is nie op die administrasieplan bestee nie weens die toepassing van ‘n nuwe struktuur en die kansellasie van tenders vir werwing. Die aantal vakante poste het ook die departement se besteding op reis, skryfbehoeftes en kommunikasiekoste beïnvloed.
Die komitee het opgemerk dat hy bekommerd is oor die aantal sleutelposte wat nie gevul is nie, maar die departement het die versekering gegee dat hy tans in die proses is om dié poste te vul. Volgens die departement ondervind hy probleme om persone met die nodige vaardighede vir grondopnemers te vind. Planne vir ‘n beursskema in dié verband is in die pyplyn.
14 September 2010