“As Suid-Afrikaanse kommersiële boere sekerheid oor hulle grond en hul toekoms kan kry, sal die Regering verras wees oor die positiewe rol wat hulle kan speel om swart opkomende boere te help oplei en voedselsekerheid vir Suid-Afrika se toekoms te verseker,” sê dr. Pieter Mulder, Adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye.
Mulder was ‘n spreker tydens ‘n internasionale seminaar op die Potchefstroomse kampus van die Noordwes Universiteit. Die seminaar het gefokus op die bydrae van sosiale entrepreneurskap tot volhoubare landbou in Suidelike Afrika.
Volgens Mulder sal voortslepende praatjies oor nasionalisering en grondgrype verdere onsekerheid in die landbou veroorsaak, wat tot meer werksverliese sal lei. Dít terwyl die sektor die potensiaal het om selfs meer werksgeleenthede as die mynbedryf te skep.
Fragmentasie is die probleem
Mulder sê volgens die Kingsley-verslag, wat onlangs bekend gestel is, is fragmentasie een van die grootste probleme in die landbou in Afrika. Sowat 85% van die plase op die kontinent beslaan 2 ha of minder, terwyl dié grootte plase onderskeidelik slegs 6%, 4% en 11% van die landbougrond in Duitsland, Amerika en Brasilië uitmaak.
“Dus, nuwe bedryfsmodelle, wat kleinboere toelaat om van die voordele van skaal te geniet, is nodig sonder dat dit boere op groter plase skade sal aandoen.”
Verder sê Mulder om nét kommersiële boere in die land te hê is nie die oplossing nie. Hy meen dat kleinboere en bestaansboere ‘n belangrike rol rondom armoedeverligting en grond aanspreek. “Waar kommersiële boere help om voedselsekerheid te verseker, is suksesvolle bestaans- en kleinboere nodig vir politieke stabiliteit en landelike ontwikkeling.”
Sowat 1,3 miljoen plaaseenhede is tans deel van kleinboer-sektor in Suid-Afrika.
20 Maart 2012