
Inligting
Venue
Kaleo-gasteplaas, Ceres - https://www.kaleomanor.co.za/
Donderdag 14 November
Simposium
Aandgeselligheid
Vrydag 15 November
Plaasbesoeke
Koste
Simposium en plaasbesoeke – R1 200
(Bespreek teen 7 Oktober en betaal net R1 050.)
Net die simposium – R1 000
(Bespreek teen 7 Oktober en betaal net R890.)
Etes, verversings en vervoer na die plase is ingesluit by die kaartjieprys.
Klik hier om jou kaartjie op Quicket te bespreek.
Program
Die volledige program is hier beskikbaar.
Waarom bied ons die simposium aan?
Die tyd vir praat is verby. Slim praatjies en teorieë gaan ons nêrens bring nie. Regdenkende Suid-Afrikaners wil praktiese grondhervorming toepas op ’n wyse wat ekonomiese groei, werkskepping en sosiale harmonie bevorder.
Op Donderdag 14 November 2019 bied Landbouweekblad en PALS ’n praktiese simposium aan om die lesse wat deur PALS se projekte en boerderye geleer is, maar ook deur ander rolspelers van reg oor Suid-Afrika, in een dag saam te vat sodat die private sektor kan voortgaan om die leiding te neem om grondhervorming op ’n sinvolle manier in werking te stel en sodat volhoubare landboubesighede gevestig kan word om beleggersvertroue te herstel.
Landbouweekblad het verlede jaar die rigtinggewende Bela-Bela-grondberaad aangebied.Dit word steeds deur rolspelers as ’n keerpunt vir die Suid-Afrikaanse landbou beskou. Bela-Bela het bewys dat mense se bereidwilligheid bestaan om saam te werk aan ’n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners.
Die rede vir daardie grondberaad se sukses was eenvoudig. Op Bela-Bela kon boere van reg oor die land – swart en wit – vir die eerste keer bymekaarkom en oor hul oplossings praat. En nie net oor grondhervorming en die vestiging van nuwe boere nie, maar ook hoe om nuwe plattelandse gemeenskappe te bou. Die omvang en gevorderde vlak van wat reeds in Suid-Afrika bereik is, het almal verras. Die werkbare oplossings het aangedui ons is reeds op die regte pad. Sedertdien is nog drie grondberade reg oor die land deur boere aangebied. Die spoed waarteen sake beweeg, is egter nie vinnig genoeg nie en die pogings bly gefragmenteerd.
Praktiese oplossings vir grondhervorming wat alle partye bevoordeel en die ekonomie kan opbou bestaan reeds. ’n Goeie voorbeeld is die Witzenberg PALS-inisiatief wat ontstaan het in die Ceres-vallei in die Wes-Kaap. Hierdie produsentgedrewe grondhervormingsinisiatief was die vonk vir ’n lang lys uitsonderlike suksesverhale wat van ons grootste boere betrek het.
Die PALS-sentrum, van waar af grondhervorming gekoördineer word, is ’n bewese konsep om gefragmenteerde pogings in ’n gebied te hanteer. Die PALS-raamwerk vir die skep van nuwe landboubesighede is oor die afgelope vyf jaar getoets en verfyn.
Boere van kleur word nie net grondeienaars met titelaktes nie, maar hul sukses as boere word verseker deur vennootskappe met bewese kommersiële boere. Die beproefde PALS-raamwerk is gegrond op deeglike sake- en regsbeginsels, en kan oor alle landboukommoditeite toegepas word.
Tot dusver is sukses in die vrugte-, graan-, lewende hawe-, supervrugte-, groente- en sitrusbedrywe behaal – reg oor die land. Dit is dus geen wonder nie dat die Stellenbosse landbou-ekonoom prof. Nick Vink na die PALS-kantoor op Ceres verwys as die “enigste, ware adres vir suksesvolle grondhervorming in Suid-Afrika”.
Landbouweekblad en PALS wil hierdie raamwerk aan Suid-Afrikaanse boere as ’n beskikbare en pasklaar oplossing vir grondhervorming bekendstel. Die eerste dag van die simposium word toegewy aan kenners – van prokureurs tot energiespesialiste – wat hul vaardighede reeds geslyp het met hul betrokkenheid by suksesvolle PALS-projekte, die kommersiële boere wat betrokke is sowel as begunstigdes wat kan verduidelik hoe hulle die suksesse behaal het. Op die tweede dag sal suksesvolle PALS-projekte in die omgewing besoek word