’n Transaksie van die koop van ’n plaas in die distrik Ladysmith vir grondhervorming is onder die loep, sê die Demokratiese Alliansie (DA).
Luidens ’n verklaring word vermoed dat korrupsie en wanbestuur deur staatsamptenare by die aanvanklike kooptransaksie van die eiendom betrokke was.
Mnr. Alf Lees, ’n woordvoerder vir die party, beoog om ’n brief aan die portefeuljekomitee vir grondhervorming en landelike ontwikkeling te skryf om die komitee te vra om mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, uit te daag om vir die voorval verantwoording te doen.
Die voorval
Volgens die party gaan die plaas, wat sowat twee jaar gelede teen R35 miljoen gekoop is, nou in ’n geslote tender verkoop word. Die aanvanklike transaksie het glo vee, behuising, luukse meubels asook Persiese matte ingesluit.
Die plaas is tans na bewering slegs aan drie kopers beskikbaar, en nie een van hulle is grondhervormingsbegunstigdes nie. “Dit is ’n klap in die gesig van dié wat hulself beywer vir die oplossing van Suid-Afrika se ongelyke grondeienaarskapspatrone,” meen Lees.
Die Valke
Die aanvanklike transaksie word ook deur die Valke ondersoek ná dit aan die lig gekom het dat die eiendom in die hande van plaaslike sakemanne geplaas is en die grondeisers glo nie eens geweet het dat die grond beskikbaar was nie.
Die Valke het op die grond beslag gelê. Dit word tans deur ’n kurator bestuur totdat die ondersoek afgehandel is. Volgens Lees bestaan verskeie vrae oor die transaksie en die bestuur van die grond.
Een van dié vrae is: Wat het geword van sowat R5,8 miljoen waarvoor die vee wat op die grond was, glo verkoop is? Vrae bestaan ook oor die kwalifikasies van die kurator.
26 Augustus 2011