
In ’n waterskeidingsaak het die Grondwethof beslis dat diegene wat nie vuurwapenlisensies betyds hernu het nie en daarna verbied is om ’n geldige lisensie te bekom, moet toegelaat word om prosesse binne die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) te volg om weer ’n geldige lisensie te bekom.
Dit het die vorige uitspraak van die hoogste hof van appèl bevestig dat ’n vuurwapen, hetsy gelisensieer of nie, die eiendom van die eienaar is totdat dit ingevolge die onderskeie wetlike bepalings vernietig word. AfriForum, wat die uitspraak verwelkom het, sê dit is ook ’n bevestiging van die eiendomsreg wat die vuurwapeneienaars besit ten opsigte van hul vuurwapens soos vervat in artikel 25 van die Grondwet, ongeag hul lisensiestatus.
AfriForum, wat deur Sakeliga as respondent by die saak betrokke was, sê dit was nie net ’n beslissing ten gunste van Fidelity Security Services (Edms.) Bpk, wat die saak begin het nie, maar ook ten gunste van alle Suid-Afrikaanse vuurwapeneienaars wat versuim het om hul lisensies voor die vervaldatum te hernu.
Die veiligheidsmaatskappy Fidelity Services, wat meer as 8 500 vuurwapens besit wat deur veiligheidsbeamptes in die uitvoering van hul pligte gebruik word, het in 2016 agtergekom die personeellid verantwoordelik vir die lisensiëring van die wapens het versuim om sowat 700 vuurwapens betyds te lisensieer. Die maatskappy sou eienaarskap van die wapens verbeur het en het hom tot die Gautengse hooggeregshof gewend waar hy sy saak verloor het.
Daarna is appèl aangeteken na die hoogste hof van appèl. Dié hof het beslis dat die interpretasie van die wet – dat ’n eienaar wie se lisensie verval het en verhinder word om vir ’n nuwe lisensie aansoek te doen, nou ’n nuwe vuurwapen moet koop waar dieselfde aansoek vir ’n nuwe lisensie ingevolge die wetgewing oorweeg moet word – maak nie sin of besigheidsin nie. Daar is ten gunste van die appellante beslis, maar die staat hom tot die Grondwethof gewend.
Aan die staat se kant was dit die minister van polisie, die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling en die waarnemende kommissaris van die polisiediens. Die respondente was Fidelity, bygestaan deur Sakeliga, die nasionale jag- en skietvereniging, die beroepsjagtersvereniging van Suid-Afrika en die vereniging van wapeneienaars.
Die hof het gesê die grondliggende kwessie waaroor beslis moes word, is of die eienaar wie se lisensie verval het vir ’n nuwe lisensie om die wapen te besit aansoek kan doen, of het hy sy kans om regmatige eienaarskap te herwin onherroeplik verloor? Die hof het die appèl met koste verwerp.
“Ons is verheug oor hierdie nuus en vertrou dat die minister van polisie so gou moontlik voorskrifte sal uitreik en regulasies uitvaardig om uitvoering te gee aan die Grondwethof se uitspraak,” sê mnr. Armand Greyling, regs-en-risikobeampte by AfriForum. “AfriForum is die afgelope paar jaar oorval met navrae en klagtes van vuurwapeneienaars wat weens laat hernuwingsaansoeke en ’n duidelik verkeerde interpretasie van die wetgewing, hul wapens kwyt is.
“Van die wapens is deur die SAPD gekonfiskeer en daarna vernietig. Hierdie uitspraak maak dit duidelik dat hierdie praktyk nou in stryd is met die bepalings van die Vuurwapenwet. AfriForum sal die minister monitor en druk daarop plaas dat prosesse ingestel word wat deur vuurwapeneienaars gevolg moet word om hul lisensies wat verval het, dringend te hernu.”