
Die wettigheid van die oordraagbaarheid van, en handel in, waterregte sal op 25 Augustus vanjaar in die Grondwethof beslis word. Die saak duur al jare lank en is reeds in die hooggeregshof en appèlhof aangehoor. Laasgenoemde het beslis dit is oordraagbaar en verhandelbaar.
Agri SA sê in ’n verklaring die Grondwethof het nou die departement van water en sanitasie se aansoek om teen die appèlhofbeslissing te appelleer, toegestaan.
Volgens die organisasie sal die Grondwethof se uitspraak beduidende gevolge vir die landbousektor inhou, beide ten opsigte van beleggersvertroue en toegang tot kapitaal.
Die saak spruit voort uit ’n omsendbrief wat die departement in Januarie 2018 uitgereik het, waarin die departement probeer het om die reg van houers van watergebruiksregte om dié regte oor te dra, op te hef. Die hooggeregshof in Pretoria het aansoeke om ’n verklarende bevel oor die wettigheid van die omsendbrief van die hand gewys, waarna die saak deur die appèlhof aangehoor is.
Dié hof het op 8 November verlede jaar bevind dat houers van waterregte daarop geregtig is om sodanige regte ingevolge die bepalings van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) oor te dra en dat handel in sodanige regte nie verbode of onwettig is nie. Die departement het hierteen geappelleer.
“Rentmeesterskap van water behels nie net die doeltreffende gebruik van skaars waterbronne nie, maar ook die wetlike beskerming van watergebruiksregte, wat nie net noodsaaklik is vir toegang tot water nie, maar ook ’n waardevolle bate vir Suid-Afrika se boere is,” sê Agri SA.
“Die vermoë om watergebruiksregte wettiglik oor te dra, ooreenkomstig die bepalings van artikel 25 van die wet, is noodsaaklik, veral vir die besproeiingslandbou. Die oordraagbaarheid van watergebruiksregte ingevolge die wet is uit die staanspoor in die vooruitsig gestel en aktief deur die departement onderskryf en ondersteun.”
Agri SA bestempel die departement se verdediging van die omsendbrief as ’n bedreiging vir die sektor se volhoubaarheid aangesien die regering weereens probeer om ’n arbitrêre ontneming van eiendom te bewerkstellig. “In die lig van die voortslepende debat rondom die Onteieningswetsontwerp kan hierdie optrede beleggersvertroue in die landbou en die breër ekonomie net verder knou.”
Om dié lewensbelangrike regte van boere te handhaaf, het Agri SA die regskoste in twee van die drie sake wat tot die appèlhofuitspraak gelei het, uit sy Vrywillige Waterfonds gefinansier.
Die organisasie sê dit is betreurenswaardig dat die sektor hom tot die ligitasie moes wend, maar hy is vol vertroue dat die oppergesag van die reg sal seëvier.