
Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het pas aangekondig dat hy die Grondwethof gaan nader om die uitspraak van regter AJ Vorster in 2021 in die Gautengse hooggeregshof ter syde te stel. Vorster het bevind dat daar nie voldoende openbare deelname was voordat ’n lys van indringerspesies en gepaardgaande regulasies in 2020 in werking gestel is nie.
Nadat die hooggeregshof en die appèlhof min. Barbara Creecy en haar departement se aansoeke tot appèl teen die bevinding met koste van die hand gewys het, is die departement se laaste hoop nou op die Grondwethof.
Die saak spruit uit die lysting en regulasies van die departement wat me. Edna Molewa, vorige minister van omgewingsake, afgekondig het om forel as indringerspesies te lys en wat in 2020 deur Creecy in werking gestel is.
Fosaf, ’n organisasie wat die vlieghengelwaardeketting verteenwoordig, het van meet af aan vasgeskop en die departement voor die hof gedaag met die argument dat die departement nie die regte stappe gedoen het soos die wet vereis nie. Deur nie genoeg inligting beskikbaar te stel nie, ontneem die staat Suid-Afrikaners van hul reg op betekenisvolle deelname in die wetgewende proses.
Die hof het Fosaf gelyk gegee en ook gelas dat die minister nie aanvaarbare redes vir die toevoeging van spesies tot die lys van indringers gegee het nie. Vorster het in sy uitspraak gesê hoewel hy nie voorstel dat die kennisgewings die totale rekord insluit waarop die minister gesteun het in haar besluit om bestaande regulasies te wysig nie, maar dat die minister ten minste ’n opsomming van die inligting met verwysings na bronne kon publiseer.
“Openbare deelname is ’n demokratiese proses en nie uitsluitlik gereserveer vir geskoolde lede van die samelewing wat Engels kan lees nie, of vir die bevoorregte minderheid wat toegang het tot die internet nie. Deelnemende demokrasie is een van die grondslagwaardes van die Grondwet en almal behoort aangemoedig te word om deel te neem,” het Vorster gesê oor die departement se versuim om in die kennisgewings melding te maak van mense se reg om mondeling kommentaar te lewer.