
Groot én klein plase sal voldoende mededingend moet wees om in die toekoms te oorleef, sê prof. Mohammad Karaan, dekaan van die departement landbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.
Karaan was ’n genooide spreker by die internasionale vereniging vir voedsel- en landbousakebestuur (Ifama) se kongres in Kaapstad.
Hy het gesê die ou probleem van die grootte van plase, waar kleiner plase deur grotes ingesluk word, sal hier, in Afrika, opgelos moet word.
Die internasionale probleem met die grootte van plase sal in Afrika opgelos moet word as die vasteland sy potensiaal van markte, hulpbronne en beduidende groei, wil werklikheid word. Net so sal Afrika ook in die volgende 10 jaar groot tegnologiese skuiwe moet maak om sy produktiwiteit te verhoog, wat die meeste van die wêreld reeds gedoen het.