
Suid-Afrika het vanaf 2000 tot 2010 sowat R140 miljard aan die landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling bestee. In dié tyd het werkgeleenthede in die landbou egter van 1,3 miljoen tot 650 000 gedaal.
Armoede en werkloosheid moet halveer word
Prof. Johann Kirsten van die Universiteit van Pretoria sê ’n ouditeur-generaal wat vrae vra oor die doelwit om armoede en werkloosheid te halveer, sal kan sien dat die mikpunte nie bereik word nie. Hy het op die TLU SA se kongres gesê daar kan vrae gevra word oor waarop dié geld bestee word. Die begroting het in dié tyd toegeneem van R5 miljard tot R20 miljard.
Daar kan gevra word of dit armoede verlig en werk geskep het, of dit kommersiële produksie en produksie in kommunale gebiede bevorder het en of dit gehelp het om natuurlike hulpbronne te bewaar. “As die antwoord nee is, is daar ernstige fout in die ontwerp en uitvoering van landboubeleid in Suid-Afrika.”
Landbou is van kernbelang vir ekonomie
Hy sê die landbou is die hoeksteen van die ekonomie. “Beleid wat die landbou belas en groei belemmer, sal die res van die ekonomie benadeel. Goeie en deurdagte landboubeleid is deurslaggewend en moet met behulp van feite daargestel word.” Kirsten beklemtoon dat beleid en wetgewing ekonomiese bedrywighede in die sektor moet aanhelp en nie smoor nie. “Die beleidmaker moet homself deurentyd afvra wat die invloed van beleid op die doelwit van ekonomiese groei en werkskepping is.”
Nasionale Beplanningskommissie erken potensiaal van landbou
Hy is bekommerd oor ’n baie wankelrige Departement van Landbou wat net ’n waarnemende direkteur-generaal en adjunkdirekteurs- generaal het. Hy sê hy hoop dat die landboudepartement met ’n skoon bladsy sal begin ná die ANC se Mangaungkonferensie in Desember. Die Nasionale Beplanningskommissie erken die potensiaal van die landbou, maar die oppervlakte onder besproeiing moet uitgebrei word sowel as produksie van kommersiële boere en in kommunale gebiede.