
Ontwikkelende markte se invoer groei die meeste en vryhandelsooreenkomste bevorder meer handel, selfs al duur dit lank om sulke ooreenkomste te bereik, sê mnr. Mike Dwyer, direkteur in die Amerikaanse departement van landbou se kantoor vir globale ontleding.
Hy het by 'n geleentheid wat die landbousakekamer Agbiz gereël het, gesê groeiende middelklasbevolkings in ontwikkelende lande is waar die toekomstige geleenthede vir die wêreld se landbou lê.
Sowat 20% van huishoudings verdien nou meer as 20 000 Amerikaanse dollar per jaar en teen 2025 sal dit 53% wees. Die groeiende middelklas beteken daar is al meer verbruikers wat proteïen wil eet en hoewel lande verkies om sover moontlik hul eie vleis te produseer, beteken dit 'n groeiende internasionale vraag na dierevoer.
Die middelklas koop ook, danksy verstedeliking, meer verwerkte en bevrore produkte.
“Sagter” pryse vir gewasse word verwag as deel van 'n regstelling van groot stygings die afgelope dekade. Die dollar sal na verwagting versterk as Amerikaanse rentekoerse verhoog word, wat ook druk sal plaas op kommoditeitspryse wat in dollar bepaal word.
Dwyer sê pryse kan wel in die tweede deel van die volgende dekade verstewig. Die verwagte plaasinkomste lyk steeds belowend, maar stygende insetkoste, wat in Amerika onder meer duurder pryse vir huurgrond behels, kan druk op bedryfsmarges plaas. “Dit sal goed gaan met goeie bestuurders, maar ander sal moeilik wins maak.”
Volgens Dwyer sal die uitbreiding van produksie grootliks deur beter doeltreffendheid, biotegnologie en die inspan van tegnologie bewerkstellig word. Hoewel daar wêreldwyd 446 miljoen hektaar onbewerkbare grond is, sê Dwyer die vraag is of grond winsgewend bewerk kan word.
Hy verwag die uitbreiding van bewerkte hektare sal grotendeels in Latyns-Amerika en die Sowjet-unie wees. “Afrika het meer onbewerkte grond, maar bemarkingskoste is hoog en swak infrastuktuur en lang afstande van markte is beperkend.” Hy sê die landbou moet soos 'n sakeonderneming gehanteer word.
“Ons besigheid is 'n skaal-besigheid. Dit gaan daaroor om bedryfskoste per skepel van uitset te verminder. Vir regerings wat die landbou as 'n program vir werkskepping wil beskou, is dit hul grootste nagmerrie, maar dit is nie 'n slegte ding as jy 'n land wil voed nie.”