
Boere in die Swartland en navorsers krap kop oor die groot proporsie van die kanola wat vanjaar geplant is, wat nie opkom nie, of swak of laat opkom.
Me. Izane Leygonie, landboukundige van Southern Oil Limited (Soill) in die Swartland, sê kanola het in alle dele van die Swartland baie swak opgekom. "Ek wil ’n rowwe skatting maak dat ongeveer 30% tot 50% van die kanola wat geplant is, nie, of nog nie opgekom het nie. Die persentasie hang af van die kultivar en die gebied."
Boere raai dat die grondtemperatuur te laag was teen die tyd dat die eerste ordentlike reën in Junie gekom het, maar mnr. Piet Lombard, navorsingstegnikus van die departement landbou in die Wes-Kaap, sê die probleem is nie so eenvoudig nie. "Ek dink dit is meer kompleks as net lae temperature. Daar is ander faktore of kombinasies van faktore wat ook ’n rol speel."
Ondersoek saak
Navorsing wat Lombard vir sy M.Tech-graad gedoen het, toon dat die grond in die Kaap nie koud genoeg is om die enkele rede vir die swak ontkieming te wees nie. Hy, dr. Johann Strauss van dieselfde direktoraat, en prof. André Agenbag van die Proteïennavorsingstigting is besig om die saak te ondersoek.
Die vermoedens is dat weersomstandighede vroeg in Junie ook die swak ontkieming kon veroorsaak. Leygonie sê in sommige gebiede het die harde reën aan die begin van Junie saadjies uit die grond gespoel as gevolg van oppervlakafloop, of toegespoel wat ook ontkieming verhoed het of gekonsentreer het in sekere dele.
Ook mnr. André Kirsten van Kirsten Boerdery by Darling sê hulle het in die sandgrond gesien die sterk winde wat die reën in Junie voorafgegaan het, het sandlagies van twee tot drie sentimeter diep in die plantvore gewaai. Toe die reën kom, het die sand in die vore vasgereën en ontkieming belemmer.
Dormansie by kanola?
’n Ander moontlike verklaring, en iets wat ondersoek moet word, sê mnr. Jim McDermott, kanola-konsultant vir die saadmaatskappy Du Pont Pioneer, is die voorkoms van sekondêre dormansie by kanola – iets waarop Lombard hom attent gemaak het. Dit beteken dat die saad dormant raak by sekere stremmings, soos die voggebrek en die hoë temperature wat die Wes-Kaap sommige dae in Mei en Junie ondervind het. Die dormansie word opgehef as die stremming opgehef word.
Heelparty boere by Darling en Riebeek-Wes is besig om kanolalande met hawer of koring "oor te plant" nadat groot oppervlaktes van die kanola wat hulle in April geplant het, nie opgekom het nie.
Kirsten sê sowat die helfte van sy kanola, meestal die wat op sandgrond geplant is, het nie opgekom nie. Waar dit wel op sy swaarder grond opgekom het, sukkel hy om tien plante per vierkante meter te tel.
'Dis waagstuk'
"Ek het reeds R2 500 per hektaar bestee. Ek plant nou hawer om iets te oes. Ek het saad in die stoor en daar is kunsmis in die grond. Dis ’n waagstuk en nood-kostebestuur. Ek gaan nie ’n wins maak nie, maar gaan darem my verliese beperk."
Wat hy vreemd vind, is dat die koring, hawer, gars en lupiene wat hy geplant het, "pragtig" opgekom het. "Ek dink dis van die beste ontkieming wat ek in jare gehad het. Ek vermoed met die donderweer wat ons in April gekry het, het die kanolasaad ontkiem en daarna doodgegaan."
Soos hy met medeboere gesels, het hy nog nie van een gehoor wat normale ontkieming van kanola gehad het nie.
Kanola verloor kiemkragtigheid
Leygonie meen sommige van die kanola kan steeds opkom ná optimale temperature van 23 tot 26 Junie. "Daar is navorsing wat dit duidelik stel dat kanolasaad hul kiemkragtigheid verloor in grondtemperature onder 2 grade Celsius, maar dit verskil van saad tot saad."
Ook McDermott stel voor dat boere nog ’n week moet wag voordat hulle besluit om die kanola dood te spuit of te laat bewei. "Ek was op plase en het gesien die kanola kom op, maar net ontsettend stadig. Die meeste van die kanola het die afgelope ses of sewe dae opgekom."
Hy sê dis in elk geval baie laat om nou ander graan te plant.