Suid-Afrika se vermoë om elektrisiteit te verskaf gaan vir die volgende twee jaar onder groot druk wees, waarsku Eskom.
Luidens ‘n verklaring verwag die kragverskaffer dat die verskil tussen die elektrisiteitsvoorraad en die vraag in 2011 en 2012 baie klein gaan wees.
Die situasie behoort teen die einde van 2012 te verbeter wanneer die nuwe Medupi-kragstasie na verwagting in werking sal tree.
Lees ook:
Krag: Hoogtepunt van tekort in 2012
Wil beurtkrag vermy
“Eskom het onderneem om nie beurtkrag weer in te stel nie, en hy erken dat hy dit nie alleen kan regkry nie. Dié voorneme sal egter getoets word oor die volgende twee jaar,” sê mnr. Brain Dames, uitvoerende hoof.
Hy sê die kragverskaffer sal die pogings om die krimpende verskil tussen aanbod en vraag doeltreffend te bestuur. “Ons kan dié uitdagings egter nie alleen te bowe kom nie, ons het die ondersteuning en samewerking van al 49 miljoen Suid-Afrikaners nodig.”
Sou die verskil nie aangespreek word nie, sal ‘n tekort van sowat 6 TeraWatt per uur in die 2011/’12 boekjaar ondervind word, terwyl ‘n tekort van sowat 9 TeraWatt per uur in die 2012/’13 jaar kan volg.
Onbeplande onderbrekings
Volgens Dames moes hulle weens die reën oor die vakansietyd die gewoonlike onderhoudswerk wat dan by veral Koeberg se twee eenhede uitgevoer word, uitstel. Hy sê hoewel Eskom tans voldoende steenkoolvoorrade het, kan dié situasie na onbeplande kragonderbrekings lei.
Dames sê oor die volgende twee jaar gaan die maatskappy op ‘n kwartaallikse basis met die media, verbruikers en rolspelers kommunikeer om almal op hoogte te hou oor die land se kragsituasie. “Maar vir die volgende twee jaar gaan ons boodskap basies wees - as jy dit nie gebruik nie, skakel dit heeltemal af. Verbruikers neem nie in ag hoeveel krag gebruik word deur masjinerie, lugverkoelers en huislike toestelle wat nie totaal afgeskakel word nie.”
Voorstelle vir doeltreffende energieverbruik is op www.eskom.co.za beskikbaar.
12 Januarie 2010