
’n Groot mielie-oes in die Vrystaat kan laer voedselpryse tot gevolg hê, met ’n baie positiewe uitwerking op die platteland. Só sê prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat (UV), berig Jana Smit van Volksblad.
Die nasionale oesskattingskomitee se landwye mielie-oesskatting dui vanjaar op die naasgrootste oes nóg. “?’n Goeie landbou-oes beteken meer geld is in die platteland in omloop. Die platteland is waar die grootste armoede in die provinsie heers,” sê Willemse.
Louw Steytler, voorsitter van Graan SA se direksie, sê as dit nie vir die broodnodige reën was wat in die sentrale deel van die land geval het nie, sou Suid-Afrika se voedselsekerheid in duie gestort het.
Willemse sê die provinsie sal na verwagting 2,5?miljoen ton mielies uitvoer. Dit is die maksimum kapasiteit. Hy hoop die groot oes sal voedselpryse laat daal.
Volgens 'n ekonoom van Graan SA, is vanjaar se oesskatting 13,5?miljoen ton. Dit is die grootste sedert die 1980-oesskatting van 14,4?miljoen ton.
Bron: Volksblad.