
Die landbou is op die vooraand van groot onsekerheid en wisselvalligheid. Hoe langer die oorlog tussen Rusland en Oekraïne voortduur, hoe groter gaan die impak op kommoditeitspryse wees, sê dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat.
Hy sê die oorlog is in hierdie stadium die belangrikse prysbepalende faktor ter wêreld omdat die twee lande leiers op die landboumarkte is. “Rusland is die grootste uitvoerder van koring ter wêreld en Oekraïne is in die derde plek. Die oorlog in hierdie lande het ’n massiewe impak op produksie en uitvoer.”
Hy sê wat ook baie belangrik is, is dat boere in Oekraïne eersdaags moet begin om mielies te plant. Die optimale planttyd is van middel April tot die eerste week van Mei en die oorlog kan veroorsaak dat die plantery onder druk kom. “Dit kan ’n wesenlike invloed op internasionale mieliepryse hê. Die land is die vierde grootste uitvoerder van mielies ter wêreld en voer jaarliks sowat 33 miljoen ton mielies uit. Dit is naas Amerika, Brasilië en Argentinië die meeste.
“Ook wat sonneblomproduksie en die uitvoer van sonneblomolie betref, neem die twee lande die leiding. As al hierdie produksie- en uitvoersyfers in ag geneem word, kan ons sien hoekom hulle internasionale landbouleiers is wat ’n groot invloed uitoefen.”
Rossouw sê Rusland produseer ook die meeste ruolie naas Amerika en Saoedi-Arabië. Rusland produseer 10,7 miljoen vate ruolie per dag. As die logistiek rondom hierdie produksie ontwrig word, sal dit ’n invloed op die prys van ruolie hê en ook kommoditeitspryse soos dié van mielies opjaag.
Rusland is ook die vierde grootste kunsmisprodusent ter wêreld met sowat 9,43 miljoen ton jaarliks. “Hy is die grootste uitvoerder van kunsmis en dit laat ons broeke bewe, want kunsmispryse is reeds baie hoog. Rusland het verlede jaar $7 miljard se kunsmis uitgevoer, met China in die tweede plek en Kanada in die derde plek. As hierdie uitvoer belemmer word, gaan dit ’n groot impak op die insetkostekant en winsgewend van plaaslike produsente hê.”
Belangrike mark vir sagtevrugte in gedrang
Die produsenteliggaam vir die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf, Hortgro, sê hy hou die gespanne situasie in Oos-Europa fyn dop.
Die opskorting van finansiële dienste en wêreldwye ekonomiese sanksies teen Rusland kan logistieke en betalingsrisiko’s vir die sagtevrugtebedryf inhou, sê mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro.
Die bedryf voer jaarliks ongeveer 5,5 miljoen kartonhouers vrugte na Rusland uit. Veral die uitvoer van pere het die afgelope paar jaar noemenswaardig toegeneem en is tans in gedrang. Rusland het verlede jaar sowat 21% van Suid-Afrika se pere ontvang.
Steenvrugte het ook die afgelope paar jaar goed begin presteer op die Russiese mark, met vanjaar se pruimuitvoer wat sover 47% hoër is vergeleke met verlede jaar.
Rabe sê Hortgro is veral bekommerd oor ’n moontlike kettingeffek op ander markte as die geoormerkte vrugte vir Rusland, wat ’n bepaalde spesifikasie vir die mark het, elders opgeneem moet word.
“Gegewe die wêreldwye stygings in produksie-insetkoste, logistieke koste en internasionale druk op verskeping, die beskikbaarheid van vraghouers en die impak van covid-19 kon die oorlog in Oekraïne nie op ’n slegter tyd gekom het nie. Die bedryf hoop dat diplomasie sal seëvier.”