Baie vrae bestaan rondom grond en grondhervorming ná pres. Jacob Zuma se staatsrede.
Mnr. Louis Meintjes, voorsitter van TLU SA, sê hulle is baie bekommerd oor die President se verwysing na statistiek rakende die oordrag van grond.
“Waar kry hy die statistiek dat net 7% van grond oorgedra is? Die departement bly vir ons aandui hulle weet nog nie hoeveel grond oorgedra is nie, want die grond-oudit is nog in proses. En óns statistiek sê 63% van grond is reeds in die staat se besit,” vertel Meintjes.
Verder is Meintjes bekommerd oor Zuma se verwysing na die Grondwet wat hom die mag kan gee om die oordragproses te bespoedig.”Beteken dit hulle wil net al die grond by die boere vat en herverdeel?” Die organisasie is van plan om ‘n skrywe aan die President te rig om oor dié statistiek te vra.
Mynbou
Meintjes sê verder dit is baie duidelik dat die meeste van die ontwikkeling vir infrastruktuur waarna die President verwys het, op mynbou gerig is. “Ons wil hom ook vra waar skakel die landbou in dié prentjie in, want die volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne moet deeglik oorweeg word.
"As die myne ál die water en grond besoedel, dan wil ons vra waar gaan die President water kry om vir die mense te gee? En waar gaan hy kos kry om vir die mense te gee?”
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê hoewel die infrastruktuurverbetering wat beoog word op mynbou gerig is, sal die landbou wel ook uit onder meer beter paaie voordeel trek. “Hy het nie veel oor die landbou en goed wat vir die sektor belangrik is, te sê gehad nie.”
Möller meen Zuma moes sterker na vore getree het om die ekonomie te stimuleer, want as die koste van sakebelange verlig kan word, sal dit tot baie werkgeleenthede lei.
“Ons is wel baie bly oor sy verwysings dat Eskom aan hom verslag moet doen oor metodes vir verlaagde koste en die President se opmerkings oor Suid-Afrikaners wat gesonder moet leef.”
Me. Annette Steyn, die Demokratiese Alliansie se woordvoerder vir landbou, sê hoewel die infrastruktuurontwikkeling baie nodig is, moet daar realisties na Zuma se voornemens gekyk word. “Ons sal eers maar moet sien of wat gesê is, wel gaan gebeur, want daar is ‘n rekord van goed wat gesê word, maar nie gedoen word nie.”
Steyn sê sy is wel opgewonde oor die aankondiging dat ‘n dam in die Oos-Kaap gebou gaan word om boere, veral in kommunale gebiede, by te staan.
Belegging
Op sy beurt het dr. Pieter Mulder, adjunk-Minister van Landbou, Bosbou en Visserye en die leier van die Vryheidsfront Plus, gesê die President se verwysing na die vrywillige-koper en vrywilliger-verkoper beginsel is kommerwekkend.
Zuma het gesê dit is duidelik dat die beginsel nie werk nie, en hy het sy steun teenoor die omstrede Groenskrif oor Grondhervorming, wat verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer is, uitgespreek. Mulder sê dié stelllings gaan verdere onsekerheid onder beleggers skep, wat die land skade kan berokken.
AfriForum is ook bekommerd oor dié stellings. “AfriForum sal enige poging om eiendomsbesit en die regte van grondeienaars te beperk, teenstaan”, lui ‘n verklaring.
10 Februarie 2012